Gian Groen
Die Gian Groen band is die eindproduk wat sy ontstaan te danke het aan die eertydse rockgroep, Spinnekop. Ongeveer nege jaar gelede het Spinnekop afgeskop met treffers soos “Tiger en Louise,” “Binneland In” en “Vier Seisoene Kind” en het gehore reg oor die land aan die brand gerock!
Hierdie tydlose songs is vandag nog van die groot gunstelinge by Gian se vertonings, maar daar is intussen baie water onder die brug deur…
Die rede vir die ontbinding van Spinnekop is gelukkig nie aan band-politics te danke nie. Dit was bloot ‘n geval van die lede van die groep wat die “garage band” era ontgroei het en na ander, groter projekte aanbeweeg het.
Intussen het die kollig al hoe skerper op Gian begin skyn as liedjieskrywer, veral nadat Laurika Rauch een van sy treffers naamlik: “Vier Seisoene Kind” opgeneem het en as titelsnit van haar CD gebruik het. Gian is ook al deur Dozi, Kurt Darren, Sonja Heroldt en ander bekende name genader om vir hulle te skryf.
Na die ontbinding van Spinnekop het Gian hom meer begin toespits op liedjieskryf en het hy al hoe meer solo vertonings op ‘n meer teatrale vlak begin doen. Die aanvraag vir Gian met ‘n band was egter steeds daar en het Gian af en toe van sessie musikante gebruik gemaak om darem nog die Spinnekop treffers lewendig te hou.
Na die eerste twee CD produksies naamlik: “Soet September” en “Groen Kitaar” is daar in 2005 ‘n eerste solo album getiteld: “Met die Maan gepla” vrygestel. Daarna is daar meer gereeld van dieselfde sessie musikante gebruik gemaak en na die 2006 album getitled: “Lied van die Engele” bly die lede van die groep onveranderd en staan hulle vandag as “die Gian Groen band” bekend. Die verskil tussen Spinnekop en die Gian Groen band is dat die musiek deesdae meer gesofistikeerde elemente bevat en defnitiewe groei in die kwaliteit daarvan uitwys.
Daar is tans ‘n splinternuwe CD getiteld; “Welkom in Somersburg” beskikbaar en vir die eerste keer in Gian se loopbaan van ongeveer nege jaar is daar ‘n kontrak geteken met een van die land se mees dinamiese platemaatskappye, Hoezit Musiek en sal deur Select Music Distribution versprei word, wat beteken dat Gian se musiek nou baie meer vrylik beskikbaar sal wees.
“Welkom in Somsersburg” is ‘n 17-snit album waarop Koos Kombuis se “Bicycle sonder slot” en Koos Doep se “Sprokie vir ‘n Stadskind” ingelsuit is. Snit 16, “Leeu-gamka” is in samewerking met Anton Goosen geskryf (dit maak Gian die eerste kunstenaar om ooit saam met die Liedjieboer ‘n song te skryf).
Die album raak verskeie style van musiek aan en is oor die algemeen baie meer modern as enige ander Gian Groen CD. Dit word deur Gian beskryf as sy beste werk tot dusver en is ‘n absolute moet vir almal wat hou van komersiële Rock met uiters goeie lirieke.
“Welkom in Somersburg” is by jou naaste musiekwinkel of supermark beskikbaar.
Besoek die Gian Groen webblad:
www.giangroen.co.za

