Koos Kombuis

koos_kombuis.jpg

Wie is Koos Kombuis ?

Van my geboorte kan ek nie veel onthou nie. Ek weet wel dat dit gebeur het kort voor teetyd op 5 November 1954 in ‘n kraaminrigting in Duiwelspiek, Kaapstad. André le Roux du Toit is ek gedoop, maar op skool reeds het ek die bynaam Koos gekry. My ma was ‘n onderwyseres en my pa toe nog ‘n maatskaplike werker. Daar was nog nie iets soos kleur-TV in Suid-Afrika nie, selfs die alledaagse lewe was swart en wit, nes in die movie “Pleasantville”.

My vroegste herinneringe is dié van ‘n removal van, of, soos ek dit genoem het, ‘n “treklorrie”. My pa het dikwels van werk verander en daarom het ons ook aanhoudend getrek van dorp tot dorp. Terwyl my pa ge-dabble het in obskure goed soos Golden Products en Sanlam, het ek my kinder- en skooljare geslyt in Riversdal, Paarl, Wellington, Kuruman en Bellville. Uiteindelik het ons vasgehaak in Stellenbosch.

Skool was vir my baie boring, veral omdat ek myself al op drie leer lees het - van die agterkante van cereal-bokse af. Kytie, ons bediende en my grootste maat, het die leerdery aangejaag deur my elke dag te vra om vir haar die strokiesverhale in Die Burger te verduidelik. My vaardighede was egter beperk tot sekere gebiede. Voor die ouderdom van tien het ek reeds ‘n dosyn romans getik op my pa se Underwoord-tikmasjien, maar ek kon nog steeds nie my eie skoenveters vasmaak nie. My onderwysers het vas geglo ek is baie dom. In ‘n sin was hulle reg, want hoewel ek lief was vir lees en vir musiek, het ek geen ambisie gehad om ‘n akademiese loopbaan te volg nie.

Ek was mal oor die army en was daar laas so vet soos ek nou weer is ! Toe al my vriende na ‘n jaar in die army Stellenbosch Universiteit toe gaan, het ek begin rondswerf van die een job na die ander. Ek was die meeste van die tyd in Johannesburg. Hierdie jare was baie donker en rigtingloos, maar ek het darem streetwise geword. Ek het my hand aan alles probeer: hoenders braai by Kentucky Fried Chicken, pizzas maak in restaurante, polisse verkoop, brande blus, klerk-speel in die staatsdiens en sulke goed. Ek het vir ‘n ruk selfs my lyf fortuinverteller gehou en vir verveelde huisvroue voorspel wat die geslag van hulle babas sou wees - hierdie beroep het immers ‘n 50% kans op sukses gehad, en ek was meer dikwels reg as verkeerd.

In 1976 het ek terug huis toe gegaan om te probeer vrede maak met my ouers, van wie ek toe al lank vervreem was. Ek het my pa-hulle heeltemal gek gemaak, want ek het hulle oral deur die huis gevolg om my nuutste (meestal swak) gedigte hardop vir hulle voor te dra. Hulle het gedoen wat ek ook sou gedoen het met so ‘n kind: hulle het my laat toesluit in die malhuis. Ek was ‘n jaar lank ‘n pasiënt in Saal 6, Weskoppies, tussen ‘n klomp drug addicts en skisofrene, voor een van die sielkundiges my ondersoek het en agtergekom het ek makeer niks nie. Tot my groot ontsteltenis het hy my dadelik ontslaan. Toe moes ek van voor af begin werk soek.

Bennie-Fritz, die verhale-redakteur van Huisgenoot, het uiteindelik tot my redding gekom. Hy het ‘n kortverhaal aanvaar wat ek vir hom gestuur het, en my gevra vir nog. Ek het af gehitchike Kaapstad toe en twee jaar lank op vryskutbasis vir Huisgenoot stories geskryf. Teen hierdie tyd was ek wel al so mal soos ‘n haas. Ek kon slegs met normale mense kommunikeer deur my skryfwerk; in my alledaagse handel en wandel kon ek net die taal van junkies praat. Ek sou geleidelik ook begin om saam met hulle drugs te vat, ‘n nare gewoonte wat ek eers in die middel-neëntigs sou afskud.

Gelukkig vir my, het my kortverhale in Huisgenoot gelei na groter sukses. Ek het my naam verander na André Letoit om verwarring met ander skrywers te voorkom en ‘n hele paar boeke (romans, kortverhale en gedigte) gepubliseer gedurende die volgende paar jaar. Toe ek verveeld raak met die erns van die literêre wêÍreld, het ek ‘n kitaar gekoop en begin liedjies skryf. Die een ding het gelei na die ander, en vandag het ek nege CD’s agter my (nuwe) naam - Koos Kombuis. Die verlange na skryf het egter ook weer te groot geraak; in 2000 voltooi ek uiteindelik ‘n lank beloofde outiobiografie (Seks en Drugs en Boeremusiek - NB Uitgewers), dit word gevolg deur ‘n roman (Hotel Atlantis - NB Uitgewers), ‘n satire in Engels (The Secret Diary of God - Zebra Press), ‘n riller (Raka, die Roman - NB Uitgewers) en 3 versamelings van voorheen gepubliseerde rubrieke (My Mamma is ‘n Taal; Afrikaans my Darling en Die Dieper Dors - almal deur NB Uitgewers)

Nou woon ek in ‘n nice voorstedelike huis, ek ry ‘n Nissan X-Trail en ‘n (geborgde) Toyota Quantum BUS! En ek het ook ‘n vrou, twee babies, DSTV en genoeg life insurance dat ek nie my vrou onnodig kwaad maak nie. My ma, wat nog leef (my pa is reeds oorlede), is baie trots op my!

MUSIKANT

Daar is nie regtig ‘n verskil tussen lirieke skryf en gedigte skryf nie. Waarom daar dan alewig so streng onderskei word tussen die sogenaamde literêres en die arme liriekskrywers weet ek wragtag nie. My musiekloopbaan het voortgevloei uit my liefde vir skryf, my liefde vir Afrikaans en my onvermoë om die waansin van Apartheid te verstaan of te aanvaar. Ek wou sien hoe lyk die mense wat my boeke lees, ek wou hulle ontmoet en met hulle gesels om te hoor waar kry hulle hul idees. Toe klim ek op ‘n verhoog en ek sing.

Dit het maar sukkel-sukkel gegaan aan die begin. Politieke toestande in Suid-Afrika het dit vrek moeilik gemaak vir ‘n ou om te sê wat hy wil, hoe hy wil. Maar gelukkig was daar ouens met guts, soos Dagga-Dirk Uys, wat nog kaalvoet oor die Drakensberg sou trek ! Dirk het aan die stuur gestaan van die Voëlvry Toer; ‘n baie deurmekaar spul musikante (ek, Piet Pers, Johannes Kerkorrel, Bernoldus Niemand, Willem Müller, Hanepoot van Tonder, Tonya Selly e.a) in ‘n kombi wat die land plat getoer het en in Afrikaans gerock-en-roll het! Die Toer is verban van vele kampusse en teaters, die kombi se tires is ‘n paar keer afgeblaas en die (swart) klankman moes soms goed weggesteek word in die whites-only hotelle langs die pad!

Kort voor die Voëlvry Toer het ek ‘n paar ouens gekry om my te help raas, so is die band, Die Warmblankes, gebore. Feitlik sedert ons eerste gig het ek my bes probeer om hulle weer te fire, maar elke nou en dan hoor ek ‘n geskuifel agter my op die verhoog, en as ek omkyk, staan die outjies maar weer daar ! Selfs ek is nie altyd seker wié in die band is nie, maar die volgende briljante musikante het al gesig gewys:

Dromme: Dagga-Dirk Uys, Frank Frost, Valiant Swart, Dapper Jannie, Vernon Swart
Lead-Kitaar: Poena, Anton L’Amour, Albert Frost
Ritme-Kitaar: Waterkloof Jones (my neef !)
Baskitaar: (Schalk) Amajuba Joubert, Doris Delay, Niek
Orreltjie: Agent Orange
Female Vocals: Liela Groenewald

Met die aanbreek van die Nuwe Suid-Afrika het dinge lekker begin raak. Daar is ‘n oplewing in GOEIE local musiek (en ongelukkig ook in BAIE SWAK local musiek, maar nou ja), daar is baie venues waar kunstenaars van hulle kan laat hoor, Oppikoppi het GEBEUR ! Daar is ‘n hele kanaal op TV net vir Afrikaanse musiek (MK89 op DSTV) en elke tweede skoollaaitie speel in ‘n bánd (girls is drummers!).

Ek is nou ‘n ou toppie en geniet dit al hoe meer om solo shows in teaters voor rye nice omies en tannies te doen, of om saam met kunstenaars van ander lande, kulture en style saam te werk; soos byvoorbeeld Stef Bos (België), Amanda Strydom, Laurika Rauch, Louis Mhlanga, Syd Kitchen en Rocco de Villiers. Maar ek voel ook al hoe meer ‘n bekende gekriewel in my binneste, so asof daar dalkies net een van die dae weer ‘n geskuifel agter my op die verhoog gaan wees…

Ek is baie dankbaar vir die sukses wat ek met musiek bereik het, al verstaan ek nie aldag hoe dit gebeur het nie. Ek was geweldig lucky om die breaks te kry, maar dit sou onmoontlik gewees het sonder die hulp van ‘n hele boel vriende.

Alle inligting verkry vanaf www.kooskombuis.co.za

Koos se CD’s:

  • Ver van die Ou Kalahari
  • Niemandsland and Beyond
  • Elke Boemelaar se Droom
  • Madiba Bay
  • Blameer dit op Apartheid
  • Mona Lisa
  • Blou Kombuis
  • Equilibrium
  • n Jaar in die Son
  • Bloedrivier (2008)