Glaskas

Die naam GLASKAS beteken eenvoudig dat ons vasgevang voel in die glaskas wat die wêreld rondom ons gebou het. Ons voel asof ons die moontlikhede daarbuite kan sien maar die werklikheid se reëls bind ons en hou ons terug daarvan om hierdie moontlikhede te ondersoek en ervaar. Musiek is die beste manier om hierdie glas te breek…”

Glaskas

Dié jong rock groep wat onstaan het in 2004 trek aandag oral waar hulle gaan. Glaskas het in 2004 vir die JIP Rockspaaider kompetisie ingeskryf en die eerste plek in die Ooskaap behaal. Daarna het hulle verhoë betree by groot feeste soos die KKNK en Aardklop.

Glaskas se debuut album Revolusie, Romantiek, Ruk en Rol is einde 2006 vrygestel, nadat Jan Blohm vir hulle gehelp het om die droom van die album te bewaarheid, deur hulle aan die regte mense voor te stel. Die groep se klank word hoofsaaklik beïnvloed deur style soos grunge, blues rock (Jimi Hendrix, Bob Dylan) en selfs ʼn bietjie Afrika musiek, maar die musiek het ook ʼn rustige kant. Die liedjies op hulle eerste album handel oor verskillende temas. Daar is liedjies oor persoonlike ervaringe, aktuele sake, stories en die rustiger liefdesliedjies. Al die liedjies is geskryf en komponeer deur Deon Meiring, die hoofsanger, kitaarspeler en stigterslid van Glaskas.
Deon se talent het hom in 2005 derde laat eindig in die ATKV Crescendo se Skeppend/Uitvoerende afdeling met sy liedjie, Vrede.

Glaksas se eerste Musiekvideo, Verloor Myself, was vir 13 weke lank die nommer 1 op die 6@6 op MK89! Dit word steeds gereeld versoek om in My MK vaaibs te speel en is selfs al verskeie keer op Jukebox op Kyknet gehoor.

Verloor Myself gaan oor persoonlike ervaringe en die waarde daarin om net soms alles te los , vir ʼn oomblik verlore te wees en dan die helingsproses van vooraf te begin.
Die tweede Musiekvideo Stormstilte, is ook uiters gewild en word onder andere genomineer as beste musiekvideo, met die 2007, VAMT toekennings.

Drie van Glaskas se liedjies, Ek wil jou hê, Verloor Myself en Jaap Vlooi, word gebruik in die tienerfliek Bakgat. Die musiekvideo, Ek wil jou hê, is ook uiters gewild en het die MK Top 10 gehaal.

Die musiekvideo van Romantikus, is ‘n treffer en word ook gereeld op MK gespeel.
Romantikus se titel verwys na die Romantiese beweging wat bv. in kuns te sien was waar kunstenaars emosie belangriker geag het as rasionele denke.
Die album, Revolusie Romantiek Ruk en Rol, doen goed en verkope landswyd is steeds op ‘n hoë peil.

Die band se sukses strek letterlik oor die hele SA. Hulle tree gereeld op by skole venues en feeste van Polokwane tot Kaapstad en van Langebaan tot in Richardsbaai en die lede op die ‘Facebook Page’ groei daagliks (in minder as ses maande het dit tot meer as 11 000 toegeneem).

Weens persoonlike omstandighede, moes daar noodgedwonge aanpassings in die band se lede plaasvind. Sedert Desember 2007, is Lolke-Louis (Buddah) Claassen op tromme. Vanaf Februarie 2008 is Chris van Dyk die nuwe baskitaarspeler.
Beide die nuwe lede is talentvolle kunstenaars wat bekend is in Pretoria en Bronkorstspruit. Buddah het voorheen vir o.a. Adam Tas , Jac Blanc en Nedine Blom trom gespeel en Chris is bekend vir sy akoestiese vertonings veral by ShinkShack in Bronkhorstspruit en Pretoria en het al saam met verskeie bekende kunstenaars opgetree.

David Gresham Records het einde 2007 vir Glaskas ‘n platekontrak aangebied. Die tweede CD, Engele Wat Skree, is op 17 November 2008 vrygestel. Glaskas het geskiedenis gemaak deur die eerste alternatiewe groep te word wat onderskeiding op Die Kyknet Top Tien (DKNT)behaal. Daar is ook ‘n program oor Glaskas op Kwêla uitgesaai.
Deon Maas het die musiek van Engele wat Skree, gebruik as basis vir sy program ‘Maas met Maandag’, om aan te dui dat opbouende protes deur musiek uiters positief is. Hy het ook die tema en veral die liedjie ‘Meneer’ in ‘n SABC2 dokumentere program gebruik: “Synopsis Afrikaner Quest for Identity”.

Van die nuwe liedjies wat by vertonings opgevoer word, lok groot waardering en opgewondenheid by die fans uit.

Breek uit die glaskas uit en luister…

Glaskas

terug