Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV) se Nasionale Skryfwedstryd 2016

Skrywers en digters, dis alweer tyd om die pen in ink te doop of om die rekenaarsleutels te kielie dat die rook daaruit trek. Dis natuurlik alweer tyd vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse nasionale skryfwedstryd 2016 in vennootskap (al vir dekades lank) met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN).

Die wedstryd word weer vanjaar met R18 000 geborg deur ons gewaardeerde borg, die Fakulteit Geesteswetenskappe van die Universiteit van die Vrystaat.

Die afdelings waarin deelgeneem kan word met ‘n kortverhaal, kortkortverhaal, skets/vertelling, ‘n opstel/essay en poësie, is die skole-afdeling (juniors, gr. 8 en 9) en seniors (gr. 10 tot 12) en ope-afdelings (B vir ongepubliseerde skrywers en C vir gepubliseerde skrywers).

Buiten vir die prysgeld, wisseltrofeë, sertifikaat en die  publikasie van die wenbydrae in Inkvars 2016, is daar ook ‘n gratis slypskool vir alle kategoriewenners, ook vir ‘n niemoedertaalwenner, by ‘n gerekende skrywer op die spel. Beoordeling geskied anoniem deur ‘n paneel kundige beoordelaars. Omkring dus ook solank nou reeds die nasionale BSV-Slypskooldatum, Saterdag, 20 Augustus 2016 met die uiters kundige digter, resensent en akademikus, prof. Joan Hanmbidge, in u dagboeke  – buiten vir die wenners, kan die publiek ook die slypskool bywoon. Met so ‘n kundige slypskoolaanbieder, gaan die beskikbare plekke beslis vlieg!

Wedstrydnavrae (en slypskoolbesprekings): Corlietha Swart (Voorsitter: BSV) by bloemsv@gmail.com of Lelani Fourie (Sekretaresse/Tesourier: BSV) by sel. 0733883377.

Die sluitingsdatum van die skryfwedstryd is 13 Mei 2016.

Verdere inligting: https://bloemsv.wordpress.com/

BSV Skryfwedstrydpamflet 2016

Inskrywingsvorm 2016 Jnr & Snr

Inskrywingsvorm 2016 ope afdelings

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *