Jy sal nie glo waar ek op die oomblik is nie - In die kantoor van Binnelandse Sake hier op Malmesbury. Die stukkie papier in my hand is al voos gefrommel van wag en wag en wag. In die lang lang tou. Op sestien kort mens nog jou ouers se toestemming vir alles. Hierdie briefie is my paspoort tot my eie lewe. My pa se seëlring. Jy sien ek is op die punt om vir ‘n hengse deel van my lewe tot siens te waai. Met goedkeuring, bygesê. Dis ‘n wierd gevoel en ek gebruik nou maar die tyd wat ek het om vir jou die storie te vertel. Terwyl ek wag vir die lange ry om sy ry te kry. Killing time, Valentine.
Maar voor jy excited raak, ek gaan nou nie my hele bleddie soul hier voor jou uitstort nie. Ek sal jou maybe so ‘n bietjie vertel van my ouers en my eie snaakse ou lewetjie, maar niks indrukwekkends nie. So moenie jou seat belt vasmaak nie. Ek wil jou maar net vertel van die afgelope week en wat ek hier maak. Hier by Binnelandse Sake op Malmesbury.
Op sestien kort mens nog jou ouers se toestemming vir alles. Maar nie Charlie Koekemoer nie. Sy is van kleins af geleer om selfstandig te wees. Op drie kon sy brood smeer, op vyf hotdogs in die microwave maak … En nou, in Graad Elf, behandel haar advokaat-ouers haar soos ‘n jong dame van twintig. Hulle is amper nooit by die huis nie. En omdat hulle skuldig voel oor sy so baie alleen is, mag sy kom en gaan soos sy wil, probeer hulle haar paai met duur geskenke. Sy is ‘n mall rat wat net designer labels dra, ry ‘n Triumph Spitfire met ‘n bottelgroen afslaandak, rook met styl, kuier laatnag tot ligdag in hip-hop clubs, lewe roekeloos en met passion … Totdat Mavis op ‘n dag onwetend ‘n dig bewaarde geheim verklap, en die aarde eensklaps gaan staan. In ‘n enkele week verander Charlie se lewe onherroeplik. Niks is meer soos dit was nie. Maar ondanks alles kry sy dit reg om sane en cool te bly. Sy skryf op haar nuwe laptop, herrangskik die files in haar kop en dans verwoed. Want soos Frida Kahlo en Isadora Duncan, die sterk vroue wat sy so bewonder, verstaan sy nou: Maak nie saak waar jy is of hoe jy dit het nie, dis alles ‘n kwessie van hoe jy kies. As jy die punch deur jou tande sif en fyn sluk, dodge jy die vis.
Tafelberg