blindesambok.jpg

Blinde Sambok - Riana Scheepers

Niemand het gedink dat ek dit sal hoor nie, maar ek hét.
Moenie dink omdat jy maar net tien minute gelede gebore is, omdat jy rooi en opgeskroef en lelik is, dat jy ook dom is, of nie kan hoor wat gepraat word nie. Jy kán.
Dit wat in daardie eerste minute van my lewe oor my gesê is, het ek gehoor, en ek het dit met my saamgevat.
“Dit kan nie wees nie …” het my pa gesê toe die stewige verpleegsuster my vir ‘n paar sekondes in sy groot hande sit sodat hy darem kan kyk hoe ek lyk voordat ek broeikas toe gaan.
Hy het geskrik bly staan, na my gekyk, en toe op die stoel agter hom gaan sit. Groot, fris man wat hy was, kon hy homself nie vertrou om my vas te hou sonder om te gaan sit nie. Asof ek te swaar was vir sy sterk, bruingebrande arms. Op die puntjie van die stoel het hy gaan sit met my in sy hande voor hom uitgehou. Ek het na my pa gekyk, gesien hoe hy lyk, en toe maar liewerster weer my oë toegeknyp.

Blinde sambok is die eerste boek vir jonger lesers deur Riana Scheepers, een van die gewildste Afrikaanse skryfsters vir volwassenes. Hoewel die boek vanuit die gesigspunt van ‘n jongerige kind geskryf is, sal hierdie ouer aanhangers ook net so veel plesier daaruit put as die jonger lesers.
Gideonette onthou alles van die dag toe sy gebore is tot in die fynste besonderhede: Hoe almal gesê het hulle het nie hoop vir hierdie bondeltjie sprinkaanbene nie. En hoe sy besluit het sy WIL LEWE en hulle almal verkeerd bewys het. Dit is dan ook die eienskap wat haar deur haar kinderjare en grootwordjare kenmerk: haar veggees. Selfs wanneer rampe die gesin tref en die mense van die omgewing weer onder mekaar begin fluister van die vloek wat op die familie rus. Deur alles heen veg sy voort vir ‘n beter lewe, en op die ou einde is die leser saam met haar bly wanneer dit duidelik word dat die lewe vorentoe vir haar gaan glimlag. ‘n Buitengewone boek propvol lewe en vitaliteit. ‘n Boek waaroor aanhangers van Riana Scheepers se skryfwerk dol gaan wees.
Blinde sambok is ‘n heel besondere boek, en soos die uitgewers sê, dit is geheel en al onkategoriseerbaar en dit gaan soos ‘n fris briesie deur die wêreld van die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur trek.

Tafelberg

Bestel by Kalahari.net