As iemand my vertel het ek gaan die meisie van my drome in ‘n laundromat ontmoet, het ek seker gesê:
Hoekom nie?
In ‘n wassery wat ruik na rook, vreemdelinge se vuil klere en ou kos? Waar seeppoeier soos skilfers op ‘n ongesonde kopvel gestrooi lê?
Sure!
Plekke met kerse, rose en musiek, waar meisies met Julia Roberts-monde en blink hare GQ-hunks op die lyf loop, is bedoel vir vervelige movies en boeke wat niks sê nie. Dis soapie-materiaal.
Ek het Justie in ‘n laundromat ontmoet…
Net toe ek vir Gideon sê “Jy kyk te veel X-Files,” sien ek ‘n meisie wat na ons kyk. Sy het seker intussen ingekom. Gideon staan met sy rug in haar rigting.
Ek voel aan my gesig. Twee dae se stoppels - dis cool. Die Diesel T-shirt ook. Gelukkig het ek gestort. Soos sy bondel klere kort Gideon egter ‘n goeie was.
Die meisie lag oopmond terwys sy uit ‘n tas op die toonbank klere in hope sorteer. Soms vergaap sy haar so aan Gideon se vertoning dat haar hande stil word. Sy het lang vingers en funky groen naels met stippels silwer.
Ek fokus op haar. Die pedal-pushers is ekstra wit teen haar bruin vel, span oor lang bene. Onder haar swart top, sonder skouerbandjies, sien ek ‘n sexy naeltjie met ‘n belly-ring. Britney Spears, eat your heart out!
Tafelberg