breinbliksem.jpg

Breinbliksem - Fanie Viljoen

2005 SANLAM PRYS VIR JEUGLEKTUUR GOUD
2006 MER PRYS VIR JEUGLITERATUUR

Ek maak vir jou die hel oop” lees die SMS wat Chris Burns aan sy pêl, Kerbs een reënerige aand in Bloemfontein stuur. En al is dit net ‘n tikfout, voorspel hierdie SMS dat die volgende paar dae hel gaan wees.
Burns help vir Kerbs om by sy ma se motor in te breek. Die goed wat hulle steel gaan verkwansel Kerbs by ‘n pandjieswinkel. Hulle beplan om die geld te gebruik vir hulle trip na die BreinBliksem rockfees wat by Allemanskraaldam gehou gaan word.
‘n Paar dae voor die konsert kry Sky Eyes, hulle ander pêl, ‘n epileptiese aanval in die Mystic Boer, ‘n uithangplek vir jongmense. Maar Burns weet dit was méér as net ‘n aanval. Hy ken vir Sky. Hy kan dit in sy bang oë sien. En dit is ook so – Sky vertel later vir Burns dat hy ‘n visioen gehad het van bloed en dat hulle moet wegbly van BreinBliksem af.
Maar ten spyte van Sky se waarskuwing vat die drie ouens tog die N1 Noord na BreinBliksem. Langs die pad tel hulle vir Partygirl, wat ook op pad is na die rockfees, op. Partygirl met die swart T-hemp, cherry rooi lippe, blou-blou oë en ‘n vel soos vanilla yogurt.
Daar is dadelik ‘n konneksie tussen Burns en Partygirl. En later die aand, alleen in hulle tent, stroop hulle mekaar se klere af terwyl die rock musiek nog van die stage se kant af weerklink en vasslaan in die vertes.
Maar dan gebeur daar iets wat Burns se vertroue in sy pêlle onomkeerbaar skaad. Burns se hele wêreld word by BreinBliksem op sy kop gekeer.
Een van hulle kom daardie aand uit die tent met bloed aan sy hande.
En niks is ooit weer dieselfde nie.

Insig het BreinBliksem beskryf as ‘Trainspotting in Bloemfontein’. Keurders het na die boek verwys as ‘n kragtoer.
As daar een boek is wat tieners en jong volwassenes moet lees, is dit BreinBliksem. Maar wees gewaarsku: BreinBliksem word nie aanbeveel vir sensitiewe lesers nie.
Hierdie is ‘n boek wat jou brein gaan bliksem!

Wat sê die resensies?

  • Beeld 20 Desember 2005 (Prof Maritha Snyman)
    Van die allitererende eksplosiewe in die titel tot by die verrassende slot, doen Fanie Viljoen se BreinBliksem letterlik dit wat die titel sê. Dit is ‘n onthutsende, maar boeiende leeservaring. Die boek verg oopkop-lesers . Dit belig ‘n groep jonges wat ons nie kan wegwens nie. Dis ‘n boek wat die moontlikheid inhou om Afrikaanse tieners te oortuig dat daar Afrikaanse boeke is wat hulle kan uitdaag. As jy dapper is, koop die boek vir ‘n tiener, lees dit self ook. Dit is goeie gespreksmateriaal.

  • Die Burger 15 Oktober 2005 (Mariana Loots)
    Lanklaas was ‘n manikuur in soveel gevaar om afgekou te word! BreinBliksem, Fanie Viljoen se debuutroman, wys uit die staanspoor waarom dit die Sanlam-prys vir Jeuglektuur ontvang het – jou mond hang oop as jy die boek klaar gelees het. Viljoen skryf gemaklik en die direkte ‘hard core’-styl is verfrissend. Die storie ontwikkel vinnig en die ontnugterende wending ‘breinbliksem’ die leser behoorlik.

  • Rapport Perspektief 11 Desember 2005 (Thomas van der Walt)
    Met BreinBliksem gaan Fanie Viljoen nog verder met die skok van die leser. Hy skets die hedendaagse tiener as asosiaal en immoreel. Die taalgebruik en optrede van die karakters is kru en selfs walglik. Die outeur wil reaksie ontlok en die leser kan nie anders as om te reageer nie. Baie lesers sal die boek ná ‘n paar bladsye wil neersit, maar dit sal jammer wees, want hier is wel sprake van vernuwing en van daardie ‘iets anders’.

Bestel by Kalahari.net