Stella is bang om agter die pilaar uit te kom. Maar sy weet sy moet. Sy móét hierdie foto kry as sy wil inskryf vir die wedstryd vir aksiefoto’s.
Die fietsryers is besig om hul fietse aan die bopunt van die parkeerterrein in posisie te bring. Die leier gee ‘n teken. Die motorfietse brul.
Hulle kom reg op haar afgejaag. Sê nou hulle stop nie?
Die voorste twee is in fokus. Sy druk die sluiterknop, neem twee treë agtertoe. Die geraas is oorverdowend, die reuk van warm olie en petrol laat haar duisel…Sy sak vinnig af op een knie…draaiende wiele klim in die lug op…
Fokus, kliek, fokus, kliek.
Die masjiene verstil. Sy kom orent. Haar bene voel wankelrig onder haar. Die ysterperd-impi het ‘n halfmaan om haar gevorm.
Die leier haal sy helm af. Daar is nie ‘n spoor van ‘n glimlag op sy gesig nie. Hy staar na haar en sy staar terug. Hy is maklik die aantreklikste ou wat sy nog gesien het. Sy witblonde hare, wat teen sy leerbaadjie se kraag kap, is netjies gesny, sy skouers breed. Hy lyk selfs beter as wat sy vermoed het. En gevaarliker.
Tafelberg