Hy voel oë in sy rug en draai om. Is dit weer die maer vrou met die… Sy oë verstar.
‘n Meisie staar na hom. Sy is langerig en atleties gebu, met kort, blonde hare wat punterig om haar kop staan. Sy het ‘n kort rompie en noupassende bostuk aan. Hy weet haar klere is koningsblou al lyk dit amper swart in die flikkerende kerslig. En haar oë moet blou wees. Sy staar hom stip aan en staan roerloos, haar hande ontspanne langs haar sye, haar lyf gemaklik gebalanseer, asof sy al lank so staan.
Hy weet dis vir haar wat hy gewag het. Sy lewe lank.
“Jou beurt,” sê die ou man en maak keel skoon. Dis die eerste keer dat hy praat.
Ferdinand draai terug na die bord. Hy skuif blindelings, sonder om te dink, en kyk weer om.
Sy is nie meer daar nie. Hy kon hom tog nie verbeel het nie? Toe hy orent spring, krap die stoel oor die houtvloer.
“Waar is sy?” vra hy. Sy stem dawer deur die leë vertrek.
“Wie? vra die ou man met nog ‘n keelskoonmaak.
“Die meisie wat nou net hier was.” Ferdinand loop na die buitedeur en kyk uit. Die straat is verlate, met hier en daar ‘n flou liggie wat deur die vensters van ‘n huis skyn.
“Niemand gesien nie,” kraak die ou man se stem. “Jou beurt.”
Ferdinand skryf die laaste vraestel van sy matriekeksamen, maar hy is nie bekommerd nie – hy weet hy sal, soos altyd, goed vaar. Tog, wanneer hy die middag by die huis kom, pak die rusteloosheid hom – dieselfde rusteloosheid wat hom agtervolg van die dag af toe hy en sy tweelingbroer Ben in ’n motorongeluk en die goue seun Ben ’n breinbesering opgedoen het en weer soos ’n klein kind geword het. Ferdinand het al lank gelede besluit hy wil nie saam met sy mede-matrikulante gaan feesvier nie. Nou gryp hy ’n paar goed en vat die pad met sy fiets – sommer ’n rigting in. Die dorpies word al hoe kleiner, die omgewing al hoe meer verlate. Teen skemeraand stop hy by ’n klein kafeetjie op ’n piepklein dorpie. Dit is terwyl hy met die ou man wat so vreemd bekend lyk, sit en skaak speel dat hy háár skielik sien – die mooiste meisie wat hy nog in sy hele lewe gesien het. Dis vir haar wat hy nog sy hele lewe gewag het, weet hy ineens. Hy los die ou man net so agter die skaakbord en volg haar deur die groeiende donkerte – tot in ’n ander werklikheid.
Tafelberg