“Shakespeare was miskien ‘n hengse romantiese skrywer, maar hy was ‘n seksis, nes die meeste mans. Hy’t seker heeldag op sy agterent gesit en skryf terwyl ‘n vrou vir hom kos gemaak, sy klere gewas en sy vuil sokkies agter hom opgetel het.”
Agter in die klas proes iemand gedemp. My wange word warm en ek weet ek lyk sweerlik weer soos ‘n sonryp tamatie, soos hulle altyd in die tamatiesousadvertensie sê. Maar ek gee nie eers om nie. Ek is nou eenmaal op die oorlogspad.
“Interesting point, Marzanne,” sê die onderwyseres versigtig, “but I’d like to know why you think so.”
Ek sluk. “Wel… kyk maar net vir Romeo and Juliet. Dis veronderstel om die mees romantiese storie op aarde te wees, maar die arme, patetiese Juliet sit die heeltyd op die balkon en wag vir Romeo om vir haar te kom liefdesgedigte voordra.”
Ek is verstom deur my eie briljante literêre insigte. Dit voel asof die woorde sommer vanself by my mond uitborrel. “Die ou wat in die middel van die nag voor my venster kom gedigte voordra, smyt ek waggies met ‘n emmer koue water. Ek asof dit nie genoeg is nie, pleeg Juliet selfmoord toe sy dink Romeo is dood. So asof meisies nie sonder mans kan lewe nie.”
LAPA