operasiemiaau.jpg

Operasie M.I.A.A.U. - Carina Diedericks-Hugo

Felix is ’n gewone elfjarige wat op ’n koue wintersoggend moet opstaan vir skool. Maar dis nie sy pa wat hom wakker maak nie, dis meneer Haasbroek, Felix se suster Madelein, se kat. En meneer Haasbroek praat met hom! Meneer Haasbroek wil hê Felix moet Die Magtige Internasionale Anti-Aapskeloerdersunie (M.I.A.A.U.) help om bullebakke vas te trek. Felix se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie, want binne oomblikke word hy ingetrek in ’n netwerk van agterdog, gemene spel en korrupsie. En die ander rolspelers? Meneer Rippenaar, pikswart met enorme groen oë, mevrou Bangani, lank en maer en uiters fynbesnaard, meneer Ching en mevrou Cho, belangrik en Siamees, die onbeholpe Jannie - en vele ander. ’n Aksiebelaaie, humoristiese storie met interessante karakters wat jou sal noop om ná dese met ander oë na katte te kyk.

Wat sê die resensies?

Operasie M.I.A.A.U is ‘n prettige en oorspronklike verhaal met ‘n lekker sterk spanningslyn. soos die karakters ‘n Diedericks-Hugo se gewilde Thomas@-reekds is Felix ‘n besonder oortuigende karakter wat mens op enige laerskool se skoolterrein kan raakloop. Die katkarakters is ook baie soos mense wat ons ken: daar is die streng Meneer Haasbroek, die naiewe Jannie, die bose Meneer Rippenaar en nog vele meer.

In Operasie M.I.A.A.U word die spot gedryf met die klassieke spioenasieverhaal. Felix is die, ietwat onwillige, spesiale agent. Die taalgebruik en beeldspraak is sprankelend vars en snaaks soos byvoorbeeld: “hy dink hy nies goud”, “monstersnollies”en “sy (dis nou Felix se suster) kruip soos ‘n stofsuier”.

Die boek is in volkleur met komplementerende sketse deur Séan Verster. Veral seuns (maar ook dogters) en alle katliefhebbers sal Operasie M.I.A.A.U. terdeë geniet.

Prof. Maritha Snyman

Illustreerder: Séan Verster
Human & Rousseau

Bestel by kalahari.net