“Dis nou vir jou ‘n babe, ou Thomas!”
Wikus Lombaard druk die plakkaat met Prestik teen die binnekant van sy kasdeur vas. Dan streel hy met sy vingers oor Kylie Minoque terwyl sy oor haar skouer vir hom loer.
Thomas kyk skrams. “Kom, jong. Pak uit! Jy weet wat gebeur as ons laat is vir ete.”
Wikus val terug op sy bed en bestudeer die popster op ‘n afstand terwyl hy allerhande kreungeluide maak.
Thomas skud net sy kop.
“Jy lyk vandag soos ‘n reun wanneer hy ‘n teef op hitte gewaar: neus, bors, stert - alles in die lug. ‘n Regte meneer. Wat het oor jou lewer gelop?”
Hy hang sy skoolbroeke oor ‘n hanger, maar hou Wikus dop wat traag opstaan en begin uitpak. Thomas frons. Vandag hulle terug is by die koshuis voel hy dit aan. Iets is ánders aan Wikus. Wát weet hy nie. Die Wikus waaraan hy gewoond geraak het, was gewoonlik minder spraaksaam ná ‘n vakansie. Maar vandag is hy wintie.
Wikus Lombaard is ’n nice ou. Hy is kaptein van die eerste rugbyspan en met sy dodelike skopskoen het hy sy span al meermale uit die verknorsing gered. En sy meisie, Marissa, is die mooiste in die skool. En al sukkel Wikus nou so ’n bietjie met die wiskunde, is dit ook nie die ergste nie. Met Marissa by hom en die rugby wat voorlê, is dinge doodreg. Hy weet mos immers waaroor dit gaan in die lewe, veral noudat hy in die vakansie met sy suster se vriendin gevry het. Behoorlik gevry. All-the-way. Maar in hierdie laaste skooljaar van hom, kort voor sy deelname aan die Cravenweek, loop dinge skeef. Lelik skeef. Vir die eerste keer ontdek Wikus dat die lewe ook reëls het. En dat dit nie net in rugby is dat ’n ou van die veld afgejaag kan word nie. Ten volle hersiene uitgawe met ’n splinternuwe omslag.
Human & Rousseau
Bestel by kalahari.net