ragtime_en_rocks.jpg

Ragtime en Rocks - Willem van der Walt

Die musiek pols ritmies deur die half donker vertrek. Elvira se skoolhemp is oopgeknoop en j kan haar bra sien. Damian is sonder ‘n hemp. Luyanda, ook sonder hemp, dans met wippende dreadlocks om Elvira. Gareth is besig met ‘n glaspypie. Hy kom na haar toe. “Probeer dit,” fluister hy in Ilhaam se oor. “Toe…”

Ilhaam se beskermde lewe is iets van die verlede. Mens kan op niks meer staatmaak nie, het sy besluit. Nie eens op jou pa wat so lief is ir jou nie. Deur haar kop bly vleg die ou ragtime-deuntjie wat meneer Wildschut nou die dag in die skoolsaal gespeel het: Waiting for sunrise… Want Ilhaam wag. Met angs en hoop. Op ‘n verandering in Gareth, eens so snaaks en vermaaklik, nou ‘n afsydige vreemdeling – “Chill, man,” sê hy vir haar, “jy kan nie jou hele lewe soos ‘n grafsteen wees nie.” Sy wag op die lot van haar oom Igshaan, een van die leiers van die nuwe beweging. Maar veral wag sy op haar pa se terugkeer. Sal hy betyds wees vir die afspraak waarvan hul lewe afhang? ‘n Afspraak om middernag een bitter koue wintersnag…

Dit is die tyd van die jaar waneer die onderwysers almal dieselfde begin klink. Elke sin begin met: In die eksamen. Dit is eksamen voor en eksamen agter.
Gareth sê dat dit weer eens bewys onderwysers is nie heeltemal mens nie. Vlieënde pierings het destyds op Tafelberg geland - perfek vir ‘n landingstrook, as jy daaraan dink - en aliens van ‘n ander planeet het ‘n trop androiëde vrygelaat. Dié androiëde is met ‘n net gevang en na die Departement van Onderwys toe gevat. Daar is hulle makgemaak, gevoer, geprogrammeer en as onderwysers opgelei. In die plek van hulle stembande het hulle bandmasjiene gekry wat net een woord kan sê: Eksamen.
“Jy sal dit veral agterkom as jy mooi na Strangler se adamsappel kyk,” sê Gareth asof hy ‘n demonstrasie lewer. “Let op hoe spring dit as jy die woord ‘eksamen’ sê. Al wat hy nog kortkom, is ‘n flitsende rooi liggie op elke oor.”
Maar met pouse sien sy weer die ander sy van Gareth. As sy deesdae aan Gareth dink, dink sy aan twee akteursmaskers: een wat breed glimlag, die ander mismoedig.

Gareth is die snaaksste ou in Ilhaam se skool, jy kan jou omtrent breek vir al sy grappies en dinge en snaakse byname vir die onderwysers. Toe hy met Ilhaam begin uitgaan, is sy in die wolke. Sy hou nie veel van die wilde partytjies smiddae na skool as die hele klomp na Damian se huis gaan nie, maar sy glo in Gareth se liefde vir haar. Buitendien is sy nie een om te oordeel nie, sy wat na al die jare uitgevind het haar pa was nooit vir ‘n jaar oorsee toe sy klein was nie, hy was in die tronk. Gevang saam met ander bendelede vir dwelms smokkel.

Tafelberg

Bestel by kalahari.net