Saartjie se ouer broer, Kris, het groot liefdesprobleme. Sy meisie het hom gelos vir ‘n vent met ‘n blink motor en ‘n snor. Lynnekom se rabbedoe glo vas dat alle mans wat snorre het, skurke is. Sy besluit dat sy en haar vriendinne die windlawaai op sy plek moet sit, sodat haar broer weer gelukkig kan wees. Sy kom vorendag met ‘n skreeusnaakse plan wat tot groot pret lei. ‘n Seun van Zimbabwe kuier in Lynnekom en hy en Saartjie kom sommer van die intrapslag af nie lekker oor die weg nie. Hy is verwaand en beterweterig en ons heldin doen haar bes om hom te ignoreer. Ongelukkig het hy iets wat sy bitter graag wil hê - ‘n wonderlike nuwe pen wat in vier kleure kan skryf. Saartjie soek naarstigtelik na iets om hom mee te ruil vir die pen, maar hy hou vol hy stel nie belang nie. Min weet hierdie tweetjies wat so vassit dat hul name eersdaags saam in koerante regoor die land gaan verskyn!