Twee groot uitdagings staar Saartjie in die gesig. Sy moet eksamens skryf en boonop afreken met ‘n boelie van Kaapstad wat haar “poplap” noem en almal in Lynnekom afknou. Ons heldin sukkel om op haar skoolwerk te konsentreer terwyl sy die een plan ná die ander beraam om die buffel op sy plek te sit. Gelukkig breek die skoolvakansie gou aan en die Drie Muskiete word na ‘n plaas toe genooi. ‘n Vriendin van mevrou Baumann wil hê die meisies moet vir haar twee seuns goeie maniere kom leer, maar dinge werk soos gewoonlik weer heeltemal anders uit. Saartjie Anna en Lina laat die plaasseuns sommer baie gou verstaan dat hulle meisies is wat nie met hulle laat mors nie!