!Sit Oom Paul - Johann de Waal
Human & Rousseau
My sondeval het in alle erns by oom Paul se standbeeld begin, want dit was die eerste keer wat ons betrap is. As dit Willem van Zyl en Petrus de Klerk-hulle was, sou dit anders gewees het - jy lag vir daardie ouens se kwaaddoenery. Selfs toe Willem vir Helmien de Lange, die LP se laatlammetjie, in die moeilikheid gebring het, het die kerk en volk nog verdraagsaam gereageer. Willem sou regkom, het almal geglo.
Maar Herman Human is ‘n ander perd. Hy is gevaarlik op ‘n manier; slinks, glibberig. En hy het, soos Bittergal en Kie. dit sien, vir Jan Joubert, die skool se sportster, onder sy slegte invloed. Hier moet ‘n stokkie voor gesteek word, daar moet hard met hom gewerk word.
Ek weet wat Bittergal dink: Ons hét hom, en jy kry net een keer jou hande om ‘n paling. As jy nie druk dat hy vrek nie, is hy nou-nou weg en twee keer so slim soos voorheen.
En toe hulle vir my en Jan en Christo en sy tweelingbroer Chrisjan met die verfblik vang, was die tyd reg om die boompie te buig.
Chrisjan was die slim een, dux-leerling - hy is berispe en uitgelos. Jan was die gewilde een en dieselfde het met hom gebeur, maar ek en Christo was goeie teikens.
“Waarom het julle dit gedoen, Human?”
“Wat sê mens tog? Waarom vra die sot nog? Jy kan tog nie sê “for the hell of it” nie. Jy praat nie reguit in Bittergal se kantoor nie - jy hou jou bek.
Ons hou ons bekke.
“Wie se idee was dit, Human?”
Wat vra jy nog? “Myne, meneer.” My stem kom moeilik uit.
Herman Human loop hom vas in die skynheiligheid van die volwasse wêreld. Skielik lyk hul dorp vir hom anders. Kerk en skool probeer die jong boompies buig en Herman raak al hoe meer hardekwas.
Hy kyk ook met nuwe oë na vroue: Met Ashia ontdek Herman sy eie seksualiteit. En dan is daar Sandra wat saam met hom in die wiskundeklas is en ook belangstelling toon.
Ek dink aan Ashia, ek dink aan Sandra. Waar ek in my lewe gesmag het na een vrou sit ek nou met twee, en ek is, vind ek tot my verbasing uit, vasbeslote om albei te bearbei. Hierdie besef skok my die hele Vrydag uit my wentelbaan uit . . .
Die een baken wat Herman het, is sy pa. En dit is op die dag wanneer Herman teenoor Ds. Weltevreden te staan kom, dat sy pa se voorbeeld hom help om te kies wat reg is en nie bloot korrek is nie. Dit is dan dat hy weet dat ’n mens met jou gewete moet kies, al verklaar jy jouself voëlvry in die proses.