thomas_moord.jpg

Thomas@moord.net - Carina Diedericks-Hugo

Dit spook in Thomas-hulle se nuwe huis! Hy hoor geheimsinnige voetstappe voor sy kamerdeur, deure gaan onverklaarbaar oop en toe en sy drukker spoeg die een vreemde boodskap na die ander uit. Met die hulp van sy vriende, Hannes en Alex, en ‘n paar soektogte op die Internet, slaag Thomas daarin om die raaisel rondom ‘n moord wat ‘n eeu vantevore in hulle huis plaasgevind het, op te los. ‘n Spanningsverhaal wat jong lesers behoorlik sal laat naels kou!

Wat sê die resensies?

  • Maritha Snyman, Universiteit van Pretoria:

Moord.net is die eerste titel in die nuwe Thomas@-reeks vir Afrikaanse kinders en die debuutwerk van ‘n jong en byderwetse outeur. Aangesien dit die enigste ware reeks is wat tans in Afrikaans uitgegee word, word dit met ope arms verwelkom.
Dit is lank reeds bewys dat baie kinders se liefde vir lees by reeksboeke begin. Dink maar aan die Saartjie- en Maasdorp-boeke van die verlede en die eietydse Engelse reekse soos Sweet Valley High en die Harry Potter -reeks. Net enkele literêre snobs glo nog dat reeksboeke sleg vir kinders is. Navorsing oor die afgelope twee dekades het onteenseglik bewys dat daar goeie redes is waarom kinders graag reeksboeke lees en behoort te lees.
Dus, welkom aan Thomas, Hannes en Alex - kort vir Alexandra. Ja, in die gees van die tyd is een van die “driemanskap” in hierdie reeks ‘n meisie. Hulle is egter nie ‘n tradisionele bende nie, maar slegs drie maats wat deur omstandighede saamgegooi word.
Thomas en sy ouers woon in Kaapstad. Hulle trek in ‘n nuwe huis in, en Thomas deps die solderkamer. Iets is egter nie pluis nie.
Ten opsigte van karakterkeuse is Moord.net stewig in die nuwe Suid-Afrika gevestig. Alex se ma is ‘n professor aan ‘n universiteit, Thomas worstel met ‘n nuwe ma wat ‘n baba verwag, en Thomas-hulle se bure is swart mense met ‘n rekenaar-fundi vir ‘n seun en ‘n toordokter vir ‘n ouma.
Behalwe die skurk is nie een van die karakters geheel en al eenkantig nie. Die outeur hou verskillende kante van die karakters aan die leser voor. Veral Thomas groei deur die insig wat die leser in sy gedagtes het tot ‘n oortuigende tienerkarakter: bang, maar ook dapper; seker van homself, maar ook onseker; onafhanklik van sy pa, maar ook afhanklik.
Die kommentaar van die meeste kinders wat die boek op my versoek gelees het, was kort en bondig: Cool.” Die kritiek wat daar was, het oor die karakters gehandel, naamlik dat ‘n mens te min van hulle lees, en dat die storie te gou verbygaan. Hierdeur word kinders se behoefte aan identifikasie weer bevestig. Dit kry Diedericks-Hugo reg.
Soos die reekstitel, Thomas@, aandui, speel moderne tegnologie ‘n sentrale rol. Die rekenaar is nie net die plek waar die intrige sy oorsprong het nie, maar is deels ‘n instrument waardeur die verhaal ontknoop en die leser aan die einde steeds met afwagting laat. Die karakters is egter nie bleeksiele wat hul hele bestaan agter die rekenaar slyt nie. Hulle is ook helde in die tradisionele sin van die woord as die gebeure daarom vra. Die verhaal is spannend en word vlot en sonder pretensie vertel in goeie, eietydse Afrikaans.
Sommige teikenlesers het gedink dat dit nie “scary” genoeg is nie. By nadere ondersoek het dit geblyk dié woord verwys na ‘n tekort aan onverklaarbare bangmaak-elemente wat kinders se hare sal laat regop staan. Dit is ook jammer dat ‘n groot deel van die ontknoping “vertel” en nie “gewys” word nie. Tog word leesplesier nie te veel hierdeur ingekort nie.
Die boek is die regte medisyne vir ‘n geslag kinders wat al hoe meer ongeletterd raak. Ek hoop dat Thomas, soos Trompie, ‘n vertroude naam sal word. Die boek word aanbeveel vir kinders (seuns en meisies) van graad 5 tot 9, met inagneming van leeservaring.

  • George Weidemann:

Carina Diedericks-Hugo is een van ‘n nuwe generasie op-en-wakker jong jeugboekskrywers (waaronder ook Jaco Jacobs en Jackie Nagtegaal). Met Moord.net (LAPA) wys sy dat sy weet hoe om rekenaarrakkers se aandag vas te vang in ‘n moderne naelbyt-avontuur.
Wanneer Thomas, sy pa en sy nuwe ma na ‘n ou Victoriaanse huis trek, ontdek hulle dat ‘n afgryslike moord ‘n eeu tevore in Thomas se solderkamer gepleeg is. Dinge is dan ook van meet af aan nie pluis in die kamer nie: daar verskyn geheimsinnige rekenaarboodskappe, Thomas hoor snags voetstappe, Thabo se sangoma-ouma beweer die kamer is getoor! Dan beroof iemand Thomas van die navorsing wat hy oor die huis gedoen het en hy word gevange geneem … Meer mag ek nie verklap nie.
Alles draai nie bloot om die uiterlike nie, al is dit hoofsaak. Thomas sukkel om hom te versoen met sy nuwe ma en die gedagte aan ‘n nuwe baba in die huis - en bowenal verpes hy die verhuisery wat hom van al sy maats gaan wegneem. Die avontuur self bring egter ook ‘n soort versoening mee.
Diedericks-Hugo toon fyn insig in die gemoed van ‘n jong adolessent. Thomas en sy portuurs (Hannes, die slim meisie Alex en die buurseun Thabo) is almal rekenaarwys, maar hulle is nie bleeksiele nie. Die knaap haak soms ‘n bietjie uit en toon die tipiese bravado van ‘n jong seun. Hy hou van rekenaarspeletjies vol bloed en derms, maar as dinge te na aan sy lyf kom - soos wat hier gebeur - bewe sy broek ook maar.
‘n Mens wonder soms oor die waterdigtheid van die intrige (veral die finale uitweg wat die skurk en sy medepligtige kies), maar besef dan weer dat jong lesers avontuurverhale lees soos wat hulle Cluedo speel of rekenaarraaisels oplos: veelal vir die pret.
Moord.net sal ‘n lekker geskenk wees - nie net vir seuns nie; maar dit mag die spesie veral aan die lees kry.

Gepubliseer in Taalgenoot, Oktober 2002