“Doofus!” skree Hannes en slaan met sy hand op die rekenaar se sleutelbord.
“Hei! Versigtig, man!” sê Thomas en loer bekommerd oor sy skouer. Die internetkafee se assistent kyk gelukkig nie in hulle rigting nie. Hy het oorfone op en wieg heen en weer terwyl hy deur die nuutste uitgawe van heat blaai.
“Sorry, man, maar hierdie rekenaar kroek! Hoe kan ek drie keer in ‘n ry verloor? Ek is die ultimate MonsterTeacher-speler!”
“Dis omdat jy stupid foute gemaak het,” verduidelik Thomas. “Jy moes nie die wiskundesom probeer doen het nie. As ‘n mens dit verkeerd het, verander die juffrou mos in ‘n mensvretende slymbal.”
“Ja, ek weet,” sug Hannes en vryf oor sy blonde hare wat woes in alle rigtings staan. “Ek het vergeet ‘n mens moet haar net ignoreer en uithardloop.”
“Dink het hoe cool dit sou gewees het as óns by die wiskundeklas kon uithardloop!” grinnik Thomas.
Hannes frons.
“Wat is verkeerd met wiskunde? Ek hou nogal daarvan.”
“Ja, maar jy’s ‘n freak,” lag Thomas en kyk op sy horlosie. “O, vrek! Ons is laat!”
Die nuwe skooljaar begin nie goed vir Thomas nie. Eers het hy en Hannes ’n nagmerrie-ondervinding in ’n hyser en dan word hy vir ’n week lank geskors omdat hy die ou drel van ’n Piet Senekal geslaan het. Thomas se pa is so kwaad hieroor, dat hy hom verbied om naby enige rekenaar te kom en hom vir ’n week lank gehok! Dit beteken dat Thomas die interhuisdans gaan misloop – sy enigste kans om vir Alex amptelik te vra om sy meisie te wees. Die enigste voordeel van die paar dae by die huis, is dat Louisa, sy stiefma, hom kan help om voor te berei vir die toneeloudisie – die manlike hoofrol kry immers die kans om vir Alex te soen! Maar dan begin ’n reeksmoordenaar paniek saai in Kaapstad en dit lyk asof dinge nie heeltemal gaan uitwerk soos wat Thomas beplan het nie…
LAPA