tippex_dit_uit.jpg

Tippex dit uit - Anne-Marie Conradie

Jana kyk vir my, en vra: Moet ek vertel of wil jy?”
Net Elle het die vermoë om so ‘n spanningsvolle oomblik verkeerd te vertolk. “Kom ek raai,” sê sy en gooi haar arms in die lug, “Julle matriekafskeidsrokke is tog te fraai.”
“Sjit, Elle, kan jy nie sien in watter toestand ons is nie? Lyk dit vir jou of ons koppe breek oor partyrokke?” Jana gryp na haar pakkie sigarette en sukkel met die Zippo.
“Okei, okei, ek sien julle is depro. Ek probeer julle net opcheer!” sê sy en sit nou regop. Jana sukkel nog met die aansteker. “Hel, Jana, los nou die gerokery en vertel my waaroor julle so stres.”
Jana blaas verwoed ‘n rookwolk by haar neus uit en sis: “Hier is iets om jou adrenalien te laat pomp. Rensche is preggies.”
“No ways!” fluister Elle en vroetel ‘n sigaret uit Jana se pak sonder om haar oë van my af te neem. Sy gaan onbedaarlik aan die bewe toe sy met Jana se Zippo die sigaret aansteek en ‘n diep teug neem. “Jy en Karel? No ways!”

n Byderwetse tienerverhaal, maar met ‘n ernstige ondertoon van hoe een verkeerde stap en ‘n paar onverskillige besluite lewens kan verwoes. Die verhaal gaan oor Rensche, ‘n predikant se dogter, wat in matriek swanger raak as gevolg van ‘n “date rape”.
Haar vriendinne probeer help deur ‘n aborsie te reël, maar dinge loop lelik skeef en Rensche sterf. Maar dit is Jana na wie Rensche gaan wanneer sy voor die grootste probleem in haar jong lewe te staan kom. Sy sal moet help - én Elle - die derde lid van hul Party of Three. Dit was tog immers hul al drie wat gejok het oor die naweek in Pretoria…

Human & Rousseau

Bestel by Kalahari.net