Hoofkaraktersoektog: Nul is nie niks nie film

Een van Jaco Jacobs se boeke – Oor ‘n motorfiets, ‘n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word – word verfilm. Daar word binnekort oudisies in Gauteng en die Kaap gehou.

NUL IS NIE NIKS NIE FILM

Oudisie vir : Nul is nie niks nie film

Produksiehuis : Redhead Productions en Faith in Motion Productions

Vervaardigers : Stefan Enslin en Lizé Vosloo

Regisseur : Morné du Toit

Nul is nie niks nie, geïnspireer deur Jaco Jacobs se topverkoper jeugboek Oor ‘n Motorfiets, ‘n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word [LAPA Uitgewers], gaan eersdaags in ‘n vollengte film omskep word. Die boek was een van drie finaliste in die filmkategorie van die KykNET/Rapport-boekprys en die vervaardigers het ‘n landswye oudisie soektog van stapel gestuur opsoek na die kinderakteurs om die hoofkarakters in die storie te vertolk.

Nul is nie niks nie is ‘n hartsverhaal oor die lewe, die dood, familie, vriende, liefde en hoop (en ‘n paar hoenders). Hierdie film vertel die storie van drie vriende (Hoender, Drikus en Chris) wat saam staan om Drikus se laaste droom te bewaarheid – om ‘n zombiefilm te maak. Tydens hierdie proses begin Hoender sy pa se dood verwerk, hy maak nuwe vriende, kry selfvertroue en leer dat sy eie talente ook waardevol is. Drikus se lus vir die lewe, uithouvermoë en determinasie bring die half-dood gemeenskap bymekaar en blaas nuwe lewe en hoop in die dorp in. Die filmspan nooi alle dogters tussen die ouderdomme van 11-13 jaar, asook seuns tussen die ouderdomme van 11-13 jaar om die oudisies as volg by te woon:

Johannesburg: 9 & 10 April 2016

  • Adres: Knowledge Resources Ballywoods Office Park, 33 Ballyclare Drive, Bryanston, Johannesburg.
  • Tyd: Die tyd vir jou oudisie sal met jou bevestig word.

Kaapstad: 16 & 17 April 2016

  • Adres: TBC
  • Tyd: Die tyd vir jou oudisie sal met jou bevestig word.

Drag: Dra asb ‘n t-hemp in ‘n soliede kleur. Moet asb nie bont t-hempde of ‘n hemp met patrone op aantrek nie. En dogters, asseblief geen grimering.

Ouderdom: Kinders tussen die ouderdom van 11-13 jaar. Niemand wat jonger of ouer is sal toegelaat word om te oudisie nie.

Kinders van alle rasse is welkom. Jy móét egter Afrikaans kan praat.

Hoofkarakters:

Hoender (Martin) Retief – ‘n Teruggetrokke, dertienjarige hoenderboer wat wiskunde formules gebruik om sin te maak van die lewe. Hy bly op ‘n armsalige dorp en het ‘n eenvoudige bestaan. Op hierdie dorp is fietsry in die strate nog iets wat kinders daagliks kan en wíl doen. Hoender het sy pa aan die dood afgestaan en probeer steeds die dood van sy pa verwerk. Sy pa het vir hom wiskundesomme op eienaardige plekke gelos en hy soek steeds na onopgelosde somme, met die hoop dat die herhinnering aan sy pa en sy invloed op sy lewe lewendig sal bly. Sy ma is glad nie betrokke in sy lewe nie en wil selfs nie meer die wêreld in die oë kyk nie. Hoender verkoop eiers om sakgeld te maak en spaar die geldjies vir ‘n spesiale doel. Hy word onverwags vasgevang in die buurseun se film maak proses en leer vinnig van vriendskap. Hoender staan uiteindelik op vir homself – nie net teen die dorp se plotrotte en sy suster se vuilgoed kêrel nie, maar ook teen sy eie ma.

Drikus – Drikus is ‘n dertienjarige, aspirant filmmaker wat aan Hodgkin se siekte ly. Al is hy besig om dood te gaan, is nie van plan om op te hou lewe nie. Drikus is die simbool van lewe en hoop. Drikus se enigste vriende is Hoender en Chris en sy hond, Cheetah. Hy moet mooi broodjies bak om te probeer wegglip onder die wakende oog van sy beskermende ma. Drikus is gedetermineerd om sy fliek klaar te maak voor hy sy laaste asem uitblaas. Hy gee glad nie om om ongemaklike vrae te vra nie en sê ‘n ding soos dit is. Hierdie karakter moet skraal oorkom, met self eienaardige liggaamsbou.

Let asb. wel : indien jy vir Drikus wil oudisie moet jy bereid wees om jou hare af te skeer – kaalkop. Drikus lei aan kanker en dis belangrik om dit ingedagte te hou.

Chris (Christine) – hierdie rol is vir ‘n dogter Chris is flambojant en parmantig. Sy is dertien jaar oud en saam met Martin in die klas. Sy is nuuskierig en avontuurlustig en sy maak haarself vinnig tuis as een van die lede in die filmspannetjie. Sy is nie bang vir die waarheid nie en gedra haar soms meer soos een van die seuns.

Sy is ‘n tawwe koekie en ander kinders mors nie met haar nie. Chris se familie is nie wel af nie en haar broer is ‘n krimineel wat besig is met sy tronkstraf. Chris het ook nie baie ander vriende nie en vorm vinnig ‘n hegte band met Martin en Drikus.

Plotrotte Jolandi en Mandi (11) : Vriendelike, oop gesiggies. Moet tweeling wees.

Waylon (13) : Hy is die skool se stut, duidelik oorgewig en mal oor die kosse wat hy al ewig in ‘n plastieksak saam met hom rond dra. Waylon en Safraas is groot tjommies en vind genot daar uit om vir Hoender te tart.

Safraas (13) : Safraas is te groot vir sy skoene. Hy dink hy is belangriker as die ander plotrotte omdat sy pa ‘n kafee op die dorp besit. Hy is selfversekerd en die voorbok wat die ander plotrotte aanspoor om saam met hom vir Hoender te spot.

Kontak nulfliek@gmail.com vir die tekste wat jy moet voorberei asook die tyd vir jou oudisie.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *