Maklike maniere om jou Afrikaans te verbeter
Skep vir jouself ‘n Afrikaanse konteks / omgewing. Dink in Afrikaans. Word bewus van (Suid-)Afrikaanse kultuur.
Brei jou woordeskat uit vir persoonlike ontwikkeling en jou Afrikaans(punte) sal binnekort begin verbeter! Die vraag is: hoe? Wel, sien al die wenke hieronder!
Kyk Afrikaanse TV-programme, byvoorbeeld 7de laan, MK 89, KykNET. As jy dit nie in die week kyk nie, ontspan Sondae voor die televisie met die 7de laan-omnibus en probeer om dit te kyk sonder om die onderskrifte te lees.
Besoek interessante Afrikaanse webwerwe, bv. www.storiewerf.co.za, www.litnet.co.za, www.news24.com/Jip/Home/, www.mnet.co.za/mk/ en www.holderstebolder.co.za.
Luister na lekker Afrikaanse Radio-programme (as jy na musiek luister terwyl jy jou huiswerk doen is hierdie ideaal vir jou) Maandae aande veral (19:30 – 21:00 Tempo op RSG) is daar ‘n lekker program op RSG (100-104 fm) spesiaal vir tieners. Dinsdae, Woensdae, Donderdae en Vrydae 20:00 - 20:30 kan jy luister na RSG Befonk. Befonk gaan oor alles wat vir jongmense (almal jonger as 25!) saak maak. Oor jongmens-issues soos wie ek is en waar pas ek in; wie is my vriende en hoe hanteer ek hulle; hoe hanteer ek iemand wat meer is as ’n vriend of vriendin; hoe leef ek my kreatiwiteit uit; hoe bly ek gesond; waarheen is ek op pad met my lewe, in terme van geleenthede, loopbane en ontspanning? Maar daar’s ook plek vir pret en plesier en musiek wat die oumense laat vlug en hulle radio’s deur die venster laat gooi!
Luister na Afrikaanse musiek. Daar is ‘n wye verskeidenheid Afrikaanse musiek beskikbaar (nie net sokkietreffers nie!). As jy nie weet waar om te begin soek vir iets waarvan jy sal hou nie, kyk ‘n bietjie MK 89 en luister na die radio – dalk is daar iets wat in jou smaak val.
Gebruik ‘n woordeboek, nie net wanneer jy opstelle skryf of huiswerk doen nie, maar wanneer jy ‘n woord hoor of raaklees wat jy nie ken nie. Maak ‘n punt daarvan om bv. elke week minstens tien nuwe woorde by te leer (dalk kan jy ‘n ‘lys van nuwe woorde’ vir jouself saamstel). Elke nuwe woord wat jy gaan opsoek en byleer help jou om jou woordeskat uit te brei en kort voor lank gaan jy nie meer nodig hê om elke liewe woord te gaan opsoek nie. ‘n Goeie tweetalige (Engels-Afrikaans / Afrikaans-Engels) en ‘n goeie verklarende woordeboek is ‘n belegging. Jy kan dit vir die res van jou lewe gebruik. Pharos se Skoolwoordeboek / School Dictionary en Beknopte verklarende woordeboek kan aanbeveel word.
Lees, lees, lees. Lees enigiets, die koerant (Die Burger), ‘n lekker boek, advertensies, pamflette, maak jou oë oop en wees bewus van wat in die wêreld om jou aangaan. As jy nie hou van lees nie, het jy net nog nooit ‘n boek gelees waarvan jy gehou het nie. Jy het tog seker ook al flieks gesien wat jou nie geïnteresseer het nie? Dit het nie veroorsaak dat jy nie daarvan hou om te gaan fliek nie, het dit? Meeste flieks is gebaseer op boeke en die tipe boeke waarvan jy hou kan moontlik die tipe flieks waarvan jy hou weerspieël. Gaan biblioteek toe en gaan vra vir die bibliotekaresse waar die Afrikaanse tienerboeke is wat in jou smaak val (bv. rillers en bangmaakstories, romantiese stories, ens.)
Stel ‘n taalgids saam van al die taal(reëls) wat jy tot dusver geleer het en LEER dit vir eksamens. Leer beteken ook om oefeninge te doen sodat jy kan leer hoe om die reëls toe te pas, dit help nie om net voor die eksamen net ‘n klomp reëls uit jou kop uit te leer nie. Pharos se Die Afrikaanse Makrogids kan ook handig wees.
Bêre jou ou eksamenvraestelle en opstelle. Haal alles waarvoor jy bepunt is aan die einde van elke jaar uit jou portefeulje uit en liasseer dit. Moet dit nie weggooi nie! Werk die vraestelle voor elke toets of eksamen uit en leer uit jou foute. Kyk ook na die foute wat jy in opstelle gemaak het en maak seker dat jy nie oor en oor dieselfde foute maak nie.
Maak ‘n lys van algemene taalfoute. Skryf al die taalfoute wat jy in ‘n toets of eksamen gemaak het neer wanneer jou onderwyser terugvoering gee. Doen verbeteringe en bestudeer die lys voor elke toets of eksamen. Gebruik die lys ook as ‘n kontrolelys wanneer opstelle skryf.

