DIE ABC VAN SKRYF - gepubliseer in Kakkerlak - Herfs, 2005, Uitgawe 2.

deur Martie Preller

Aanvaar jouself en wat jy sien as jou “beperkinge” Skryf gaan jou nie ‘n interessanter/heler/meer aantreklike mens maak nie. As jy dalk eendag ‘n boek gepubliseer kry, gaan jy nog jy wees.

Breek ‘n eier. Eet die eier op die manier wat jy wil. Vat die stukkies eierdop en spel enige woord daarmee uit op ‘n swart vel papier. Watse woord het jy gespel? Hoekom dink jy het jy dié spesifieke woord “gekies”? Begin die eerste sin van jou storie met dié woord. Motivering vir die absurde opdrag: Skryf is moeite, net soos om ‘n eier te breek, te eet, ‘n woord te spel en alles op te ruim. Skryf kan ook ‘n soort ritueel wees. Dis anders vir elkeen. Iets moet gebreek word, daar is ‘n effe van ‘n gemors, daar is moontlikhede. Daar is nie resepte nie. Skryf is moeite. (Sien E)

Chaos. Mens skryf uit chaos. Mens kan nie uit ‘n “reggepakte” kas jou groot wysheid en insig aan ander “leer” deur stories nie. Jy weet net van jouself, wat jy beleef het, wat jy nodig het ens. Bied dit wat jy wil sê aan deur stories met respek vir jouself en ander. Skryf is HERskep. NUWE ordes en storiepatrone wat jy dalk gevind het. Skryf is soeke. Skryf is wonder. Niemand het finale “antwoorde” nie. Wat was die vraag nou weer?

Dans saam met jou woorde. Hoe dans die H? Huilerig en hoeserig en hygerig? En die O? Opsters en otterig en onderstebo? Maak jou eie dans-alfabet.

Een vir een. Woorde word een vir een geskryf in sinne. Sinne word een vir een geskryf in paragrawe. Paragrawe word een vir een geskryf om bladsye vol te maak. Skryf is moeite. (Sien B)

Flits. Draai jou oë na jou binnekant. Wat sien/hoor/voel/ruik/proe jy? Sien jy ‘n flitsende lig? ‘n Ambulans? Wat het gebeur? Of is dit die lig aan die einde van die tonnel? Of dalk net iemand met ‘n flits wat soek soos jy? Of dalk die oog van ‘n aankomende trein? Skryf so dat ander ook kan ervaar wat die karakter sien/hoor/voel/ruik/proe/wonder.

Gooi alles wat jy weet weg. Maak jou kop/siel/lyf leeg. Is daar iets/niks oor? Indien daar nog iets oor is, gooi weg totdat jy leeg is. Dis waar stories begin. By die groot niks waar ENIGIETS kan gebeur …

Hoekom wil jy skryf? (Sien A en B)

Ietermagog – is dit nie die snaaksste woord wat jy nog ooit gesien het nie? Maak lysies van jou snaakse woorde, jou interessante woorde, jou irriterende woorde, jou knorrige woorde ens.

Jag jou skaduwee totdat jy hom/haar vang. Jou kanse is omtrent net so goed as om ‘n boek in ‘n maand te skryf. (Sien B en E)

Koop elke maand ‘n boek saam met jou kruideniersware en hoop dat ander mense dit ook doen. Wie dink jy gaan JOU boek koop as dit dalk gepubliseer word?

Lag vir jouself. Dis beter as om jouself te verbrysel omdat jy nie perfek is nie/ Lees vir elke boek wat jy wil skryf, 10, 461 en ‘n kwart boeke. (Sien K) Moenie so ‘n boring boek skryf soos die een wat jy nie eens kon klaarlees nie.

Moenie … mossie … kardoesie .. konfoes … skimmel die koei in die gras … Gaan waarheen die woorde jou vat en kyk waar is jy dan.

Neus. Hoe lyk jou karakter se neus? Hoe lyk jou neus? Watse neus wou jou karakter eerder gehad het? Watse neus wou jy eerder gehad het? Sou dit iets aan jou karakter se lewe verander het as sy/hy ‘n ander neus gehad het? Sou dit iets aan jou lewe verander het as jy ‘n ander neus gehad het? Vervang – neus – met enige ander liggaamsdeel.

O … die O kon so vreeslik lieg. Hy het altyd ‘n stertjie aan alles wat hy vertel het, bygelieg. Toe word hy ‘n Q. Daar gebeur iets in ‘n storie. Wat gebeur? Hoekom? Waar? Wanneer?

Probeer. Anders sal jy nooit weet of jy kan nie. Stories skryf nie hulleself nie. (Sien B en E)

Q. Eendag was daar ‘n Q wat so vreeslik gelieg het. Hy het ‘n stertjie by alles bygelieg. “Wat is dit tog met Q,” het almal gevra. “Hoekom lieg hy tog so?” “Ek kan nie anders nie,” het Q gesug. “Ek is so gemaak en so gelaat staan.” Lieg Q?

Rose het dorings. Het dorings rose? Draai jou storie op sy kop of op haar voete en kyk waarheen sy loop.

Skryf. Natuurlik. (Sien B en E) Skryf is ‘n ambag. Jou medium is woorde. Hoeveel woorde ken jy? Hoeveel kan jy maak? Hoe klink jou sinne? Praat al jou karakters op presies dieselfde manier? Ondersteun die klanke van jou woorde hulle betekenis? Ondersteun jou sinskonstruksie die betekenis van die sin? Mediteer jou karakter in lang en verwikkelde sinne oor die sin van die lewe, terwyl die woedende bul se warm asem gate in sy rug brand?

Tyd. Almal se dae het 24 ure. Verstommend, né? Dit hang af wat jy met jou ure doen.

Urvis is ‘n virus. Jy kan dit nie gebruik nie. Ek het al in Balkie en die woeste virus. Het jy behoorlik navorsing gedoen oor die genre waarin jy wil skryf? Jy moet nie NAskryf nie (dit is mos nou al gedoen) maar jy moet weet wat daar reeds bestaan.

V, W,X, Y, Z. Moenie die storie aanjaag of klaarmaak voordat dit nie klaar is nie. Moenie jou dae verbywens nie. Jy mis dalk iets? As jy spinnekoppe onder klippe soek, sal jy spinnekoppe kry en is jy ‘n … ? Dalk net onder AL die klippe kyk? Versigtig. Vir … iets? Wat daar ookal is?

Wie dink jy gaan jou boek lees as jy nie ander se boeke lees nie? Wie gaan jou boek koop as jy nie ander se boeke koop nie?

XXXX Liefde en …. verkeerde merkies? Misverstande lê in die hart van stories. Ontleed die mis (selfstandige naamwoord of werkwoord?) ver (of te naby?) s-tande (grynslag of glimlag?) Of staan mens ver (te naby?) aan ander se mis(lukking?) as daar ‘n misverstand is? Waar was jou verstand? “Of all the things I lost, I miss my mind the most” – het iemand gesê. Of is die liefde ‘n verkeerde merkie? Of is dinge reg en verkeerd en ons optel- of af(t)rek- of maal- (meul?) of deelsomme? Speur deur die betekenis van taal en soek ou woorde en nuwe woorde en woorde wat presies sê wat jy wil sê en span hulle so in dat hulle presies sê wat jy wil sê. (Sien B en E)

Y is ‘n kelkie of ‘n kers of ‘n kandelaar of paaie wat vurk. Het die kelkie en die kers die kandelaar verneuk en nou vurk hulle paaie? Daar is orals stories. Soek.

Zzzzz. Aanvaar jouself en wat jy sien as jou “beperkinge” Skryf gaan jou nie ‘n interessanter/heler/meer aantreklike mens maak … Jy het dit al êrens gelees, né? Bly jy slaap nog nie! Moenie goed oorskryf nie. Dis plagiaat en boring. Wees nuut en oorspronklik. Maar hoe? Is alles nie al gesê wat gesê kon word nie? Daar is niks nuuts nie. Is so. Alles is al gedoen. Maar is dit presies SO al gedoen? Uitgewers noem dit die “goue reël” van skryf – “Show, don’t tell!” Ek wou nie alleen deel (sê) wat ek weet van skryf nie, maar dit ook WYS. As jy nie alles verstaan nie, moenie bekommer nie. Ek verstaan ook nie. Niemand verstaan alles nie. Dis in die wonder en die nie-verstaan en die soeke en in die miskien wat die mooiste stories gevind kan word. (Sien C en G) Ons deel net soos ons kan, op die mees oorspronklikste maniere wat ons kan.