Holderstebolder het by Derick Muller, wenner van die Afrikaanse kategorie van Human & Rousseau se Ek is ‘n Skrywer-kompetisie met sy boek Vuil Skottelgoed, gaan inloer om uit te vind wat hom laat tiek.

Ek is ‘n surf/skate punk wat verslaaf is aan kitaarspeel, skryf en die kuns van menswees. Ek is in Kaapstad gebore en het ook in Graaff-Reinet langs die Sondagsrivier, in Kimberley en die Boland gebly. Nou bly ek weer in die Moederstad.
Ek vereenselwig nie net met een karakter nie, maar liewers met ‘n collage van karakters. Meestal karakters wat interessant, liberaal en ietwat gekant is teen die standaardnormes en –waardes, soos Raoul Duke van Fear and Loathing in Las Vegas deur Hunter S. Thompson; Che Guevara in Motorcycle Diaries deur Che Geuvara; Lockie Leonard – die surf grommet van die boek Lockie Leonard Human Torpedo deur Tim Winton; Chris Sasner se Die Swart Kat; die ambassadeur in Andre P. Brink se Die Ambassadeur. Almal het iets wat my lok, interesseer. Hulle is karakters wat op hul eie manier rebelleer of veg teen die eentonigheid van voorgeskrewe lewe.
Ek kan ‘n eindelose lys musikante, skrywers, kunstenaars en filosowe opnoem. Maar vir my is elke persoon wat hul drome leef ‘n rolmodel.
Passievol. Afrikaans is lewendig, aan die brand en altyd besig om te metamorfoseer. Daar is verskeie jong Afrikaanse bands, skrywers en kunstenaars, wat bydra tot Afrikaans. Dit maak die taal nie net cool nie, maar gee dit ook intellektuele en kulturele waarde. En dit is jongmense wat hierdie verandering inisieer en inspireer.
Ek het net begin skryf. Ek het reeds ‘n sak vol kortverhale geskryf gehad en toe op neëntien begin ‘n langer verhaal in my broei. Die gevolg was Vuil Skottelgoed.
Nie eindelik nie. Ek het maar net vir myself geskryf. Ek bedoel, ek was neëntien jaar oud, dit was vanselfsprekend dat die “teikenleser” hoërskoolkinders en studente sou wees.
Bastian is ‘n skate punk met drome en ideale wat ‘n bietjie afwyk van die plan wat sy ouers en onderwysers vir sy lewe gehad het. Hy ís rock ‘n roll.
Ja, ongelooflik belangrik. Ek onthou op skool was daar min voorgeskrewe boeke wat ek regtig baie van gehou het, want ek kon nie identifiseer met die karakters of die stories nie. Dit het gevoel of van die boeke out of touch was met die my, die jeug.
Beter boeke. As skoolkinders voorgeskrewe boeke gegee word, waarvan hulle hou, sal hulle meer geïnteresseerd wees in boeke en in lees. Op skool het ons hierdie oumensboeke (no offence) gekry om te lees, wat niks te doen gehad het met ons nie. Ons het gedistansieerd gevoel van die verhale en karakters in die boeke. Kinders lees nie want hulle word vervelige boeke op skool gegee om te lees. Hulle kyk M-TV en movies en speel X-box en dan kom hulle in die klaskamer en moet hulle een of ander boring voorgeskrewe boek lees. Laat kinders hul eie voorgeskrewe boeke kies. Dit sal hulle inspireer om later self literêre meesterstukke te gaan soek om hul leeshonger te stil.
Dit blom. Ek het ‘n kontrak met Human & Rousseau vir my volgende drie boeke en ek doen hierdie jaar (2009) ‘n meestersgraad by UCT in kreatiewe skryfkuns, met Ettiene van Heerden as my mentor. So ek’s super amped. Ek dink ek is verslaaf aan skryf. Maar ek het nou pille daarvoor gekry en op Donderdae-aande is daar ‘n skrywers anonymous-groep wat ek bywoon, wat verslaafdes help.
“Hallo, my naam is Derick en ek is verslaaf aan skryf.”
Skryf. Begin en moenie ophou nie. Stuur jou werk vir uitgewers en kompetisies of selfs vir my op faceboek. Skryf elke dag en skryf eg en waarvan jy weet en wat jy voel, sodat die mense die emosies kan proe in jou woorde. En die belangrikste van als: Skryf om dit te geniet.