In gesprek met Derick van der Walt

derick_van_der_walt.jpg

Met Lien se lankstaanskoene het Derick van der Walt die Sanlam-prys vir Jeuglektuur (Goud) verower. LitNet se jeugverslaggewer en voorsitter van Affro (Hoërskool Rondebosch se Afrikaansvereniging), Adriaan Louw, het gesels met die outeur nadat die boek by Tafelberg verskyn het.

Derick, vertel my so bietjie meer van jouself en jou loopbaan.

Ek is ʼn kommunikasiekonsultant van Pretoria. As direkteur van ʼn firma wat in die korporatiewe-kommunikasiewêreld bedrywig is, is ek onder meer verantwoordelik vir die produksie van ʼn paar korporatiewe publikasies wat gereeld verskyn. My vrou se naam is Lenie en ons het drie groot seuns. Lees, fliek, musiek, rugby, goeie kos en koue wyn lê my na aan die hart.

Lien se lankstaanskoene is emosioneel omvattend en dramaties. So ʼn verhaal het noukeurige beplanning nodig. Wanneer is Lien gebore?

Ek kan eerlikwaar nie meer presies onthou nie. Daar was nie sprake van noukeurige beplanning nie. Die eerste hoofstuk wat ek geskryf het, het uiteindelik eers later in die boek ʼn plek gekry. Die storie het gegroei namate ek geskryf het. Ek het die hoofstukke nie in volgorde geskryf nie, maar het min of meer geweet waarop die storie afstuur. Die eerste en die laaste video (“voorspel” en “naspel” in die boek) het ek byna heel aan die begin geskryf.

Ek het aanvanklik ander planne vir Lien se dilemma gehad, maar die storie het verander soos ek dit geskryf het. Ek het lank gewik en geweeg tussen ʼn “gelukkige” en ʼn “ongelukkige” einde.

Die vraag of bevoorregte tieners gaan sink of swem wanneer die mat onder hulle voete uitgeruk word, het my nog altyd geïnteresseer. Dis vermoedelik waar Lien gebore is.

Hoe het jy te werk gegaan om hierdie boek te skryf? Het jy eers al jou karakters en situasies beplan, of het daarvan opgeduik terwyl jy geskryf het?

Weer nee. Ek het niks beplan nie en het op intuïsie geskryf, hoewel ek die basiese storie in my kop gehad het. Behalwe die kerngesin - Lien, Braam die ma en die pa - en hulle familiekrisis het die ander karakters later opgeduik. Wat met hulle gebeur het, het mettertyd ontwikkel.

Hoekom het jy besluit om jou hoofkarakter ʼn meisie te maak in plaas van ʼn seun?

Ek was van die begin af seker dat ʼn meisie groter trefkrag vir die storie as ʼn seun sou hê. ʼn Seun sou moontlik anders in só ʼn situasie gereageer het.

Was dit soms moeilik om jouself in ʼn meisie se skoene te plaas?

Ek het nie so gedink terwyl ek geskryf het nie. Die manuskrip waaraan ek nou werk, het drie tienerbroers as hoofkarakters. Dis makliker. Die verwysingsveld is meer bekend. Ek was egter katvoet vir goed wat ek nie van meisies weet nie. Die matriekafskeid speel ʼn klein rolletjie in die boek en ek het weggebly van matriekafskeidrokke en sulke goed.

Musiek speel ʼn groot rol in die boek - van pop en hip-hop tot klassieke klavier en orkeskonserte. Moes jy ooit gaan navorsing doen het, of het jy van jou eie musieksmaak gebruik gemaak?

Ek is gek oor alle soorte musiek en al die musiekverwysings in die boek kom uit my CD-versameling. Die Pussycat Dolls is ʼn uitsondering. My kinders het my vertel wat hulle meen ek oor dié groep behoort te weet en ek moes op die internet gaan rondsoek om hulle lirieke aan te haal.

Die karakters ervaar ʼn emosionele rilrit. Het jy ooit gestop en eers gedink hoe vandag se jeug die situasies sal hanteer?

Ja, dikwels, en ek het gewonder of lesers sou dink om op ʼn straathoek te bedel is ʼn maklike manier om geld te verdien. Ek vermoed dit moet hel wees.

Maar ek hou nie daarvan dat mense kollektiewe karaktertrekke aan groepe soos tieners, middeljarige mans of ou tannies toedig nie. Ek glo nie mense van ʼn sekere ouderdom is almal A, B of C en dat hulle almal sus of so maak en dink nie. Ek wou Lien as ʼn individu voorstel wat die situasie op háár manier hanteer het.

Die boek is gemik op die jeug. Is daar ʼn boodskap wat daarmee gepaard gaan wat jy aan jou lesers wil oordra?

Ek dink nie die boek is net op die jeug gemik nie. Omdat tieners die hoofkarakters is, maak dit Lien nie noodwendig ʼn jeugboek, of nét ʼn jeugboek, nie. Die meeste mooi dinge wat tot dusver oor die boek gesê is, kom van volwasse lesers. Ek hoop natuurlik dat jongmense daarvan sal hou.

Die boek het nie ʼn lessie of ʼn boodskap nie. Maar ek glo aan die ou, geykte uitdrukking dat jy eers ʼn paar treë in iemand se voetspore moet loop voordat jy kan sê. Dié lewensfilosofie het waarskynlik deurgeslaan.

Lien se droom is om die wêreld te sien. Is reis een van jou stokperdjies?

Beslis. Ek is mal oor Europa en was vanjaar die eerste keer in New York. Ek was so tuis daar dat ek nie wou huis toe nie. As die skip kom, beplan ek en my vrou om nog baie te reis.

Lien, is soos miljoene matrikulante, onseker wat hulle roeping in die lewe is. Wou jy altyd ʼn skrywer word, of moes jy ook eers hierdie struikelblok oorkom?

Ek het in matriek nie ʼn clue gehad wat ek wou doen nie en het paniekerig alles onder die son oorweeg, selfs die regte, waarvoor ek ʼn beurs gehad het. Ek het my gelukkig betyds bedink. Dit sou ʼn ramp gewees het. Maar ʼn mens beland waarskynlik uiteindelik waar jy moet wees. Ek skryf nog my lewe lank professioneel en in my agterkop het ek geweet dat ek eendag kreatief sou skryf. Eendag het so drie jaar gelede aangebreek.

Ek preek altyd vir my seuns dat ʼn mens nie te onrustig moet wees as jy nie nou al presies weet wat jy wil doen nie. Volg jou hart en moet glad nie aan geld dink nie. As jy doen wat jy moet doen, sal die geld kom, aldus hul wyse pa. (Die storie oor die geld val waarskynlik op dowe ore.)

Ons ontmoet hoofsaaklik drie onderwysers by Jakaranda Hoërskool, by name mnr Macmillian, juffrou Breytenbach en ou Uil (die skoolhoof). Is hulle karakters en klerestyl gebaseer op onderwysers uit jou skooljare?

Almal is fiktief behalwe mnr MacMillan, wat losweg op ʼn onderwyser gebaseer is wat vir ons Engels op hoërskool gegee het en ernstig weird aangetrek het. Die enigste karakters wat effens op die werklikheid geskoei is, is die bedelaars Roos en Johnny. Hulle lyk soos mense wat hier in ons omgewing doenig is, hoewel ek hulle net van sien ken.

Is Lien se karakter op ʼn regte persoon gebaseer?

Nee, maar as ek ʼn dogter kon hê, sou ek daarvan gehou het as sy soos Lien was. Ek hou van haar hardegatgeit.

Lien se lankstaanskoene is sowaar ʼn groot sukses en het die Sanlam-prys vir Jeuglektuur (Goud) gewen. Terwyl jy die verhaal geskryf het, het jy ooit gedink dat dit só suksesvol sal wees?

Glad nie. Ek was baie onseker oor die manuskrip en of mense nie gaan dink dis ʼn klomp twak nie.

Ek het ʼn traantjie gepink terwyl ek twee tonele aan die einde van die boek geskryf het en maar gehoop dat dit ander mense ook sal roer. Ek het die manuskrip nadat dit klaar was, baie versigtig vir ʼn paar mense gegee wie se oordeel ek vertrou.

ʼn Vriendin was beïndruk. Sy het die manuskrip laat bind en dit vir wyle prof Elize Botha, ʼn familievriendin van haar, in die hospitaal geneem. Prof Botha, wat besig was om aan kanker te sterf, het baie van die manuskrip gehou en dit was die eerste keer dat ek besef het die boek kan dalk werk. Dit beteken vir my baie dat Lien een van die laaste goed was wat tannie Elize gelees het.

Onderhoud met toestemming verkry van Affro se webtuiste