Fanie Viljoen

n567576831_873493_9756.jpg

Fanie woon tans in Bloemfontein. Hy skilder en skryf voltyds. Fanie Viljoen is in Welkom gebore en het ook daar skoolgegaan. Hy matrikuleer in 1987 aan die Hoërskool Goudveld. Daarna volg twee jaar nasionale diensplig in Kimberley, Oshivello en Lohatlha. In 1990 begin hy voltyds werk by Sanlam. Hy skryf in dié tyd in vir ‘n deeltydse kursus in grafiese ontwerp. Hy behaal die N6-sertifikaat in 1995 aan die Welkom Kollege. In 2002 volg ‘n BA-graad in Sielkunde en Sosiologie aan Unisa.

Die skilder- en skryfgogga het Fanie alreeds op skool gebyt. Hy het ‘n aanmoedigingsprys gewen in een van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skryfkompetisies (1987). Hy het ook kuns op skool geneem.

Fanie het al aan verskeie kunsuitstallings deelgeneem in Welkom, Bloemfontein en Kaapstad. Van sy skilderye het ‘n tuiste gevind in Amerika, Australië, Kanada en Brittanje.

Fanie se eerste kortverhaal is in 1999 in Sarie gepubliseer. Daarna het nog publikasies in tydskrifte en boeke gevolg. Vandag is Fanie een van Suid-Afrika se gerekende kinderboekskrywers. Sy werk is bekroon met verskeie toekennings. Hy skryf veral kinder- en jeugboeke omdat daar nie grense is aan kinders se verbeelding nie.

Die volgende boeke het alreeds uit sy pen verskyn:

* Onderwêreld (2008) Tafelberg Uitgewers
* Die geheime bestanddeel in Petra Pienk se piesangbrood (2008) Human & Rousseau Uitgewers
* Klits Kronkel en die Vloek van die Swart Jakkals (2008) Tafelberg Uitgewers
* Miserella (2007) Human & Rousseau Uitgewers
* Klits Kronkel en die Vlammende Swaard (2007) Tafelberg Uitgewers
* Slym en die Gogga-sirkus (2007)  Lapa Uitgewers
* Geraamte in die klas (2006) Human & Rousseau Uitgewers
* Spoke en ander gruwelike goed (2005) Human & Rousseau Uitgewers
* BreinBliksem (2005) Tafelberg Uitgewers
* Slym (2004) - Lapa Uitgewers

Alle inligting verkry van www.fanieviljoen.co.za