Jaco Jacobs

f_jacojacobs3.jpg

Waar skryf jy?

Ek het onlangs uiteindelik die grootmensding gedoen en ‘n meenthuis in Bloemfontein gekoop, reg teen Seinheuwel se krans. Vir die eerste keer het ek nou ‘n studeerkamer waar ek my skryfwerk kan doen. Ek het voorheen in ‘n woonstel gebly, so dis lekker dat my boeke, notas, papiere en rekenaar nou nie meer my hele slaapkamer vol staan nie!

Skryf jy net sekere tye?

Ja, ek skryf meestal soggens vroeg wanneer my gedagtes nog vars is. As ek aan ‘n storie werk, staan ek partykeer selfs drie-uur op. In die winter kan dit nogal ongerieflik wees! Ek is ‘n oggendmens.

Skryf jy in stilte of met musiek?

Ek skryf gewoonlik met musiek - hoe lawaaieriger, hoe beter! Ek is ‘n groot metal- en rock-aanhanger - Korn, Rammstein, My Chemical Romance, sulke soort musiek. Dit moet verkieslik ‘n CD wees wat ek al heelwat geluister het, anders trek die onbekende musiek en die volgorde van die liedjies my aandag af. Terwyl ek skryf, is die musiek eintlik ‘n vreemde soort “stilte”, omdat dit reeds bekend is. Soms luister ek dieselfde CD drie keer deur sonder om dit agter te kom.

Waarmee skryf jy? Hand, rekenaar of tikmasjien?

n Rekenaar. Ek het gelukkig ‘n jaar lank tik op skool gehad, so ek kan lekker vinnig tik. Om met die hand te skryf is vir my frustrerend stadig.

Hoe besluit jy oor wat jy wil skryf?

Dit gebeur op verskillende maniere. Soms is ‘n mens verplig om oor ‘n sekere onderwerp of in ‘n sekere formaat te skryf, byvoorbeeld met reeksboeke of rubrieke. Ander kere meld ‘n storie-idee hom op die vreemdste plekke aan. Ek het die anderdag terwyl ek draf byvoorbeeld ‘n idee vir ‘n tienerboek gekry wat my tans baie besig hou - binne tien kilometer het ek byna die hele storie in my kop gehad.

Het jy enige wenke as dit by die skryf van boeke kom?

Die heel belangrikste is: lees, lees, lees. Aspirantskrywers kyk 90% van die tyd vas in die lekker dinge van publiseer, maar hulle ken nie die genre waarin hulle wil skryf nie of hulle het nog hopeloos te min stories gelees om te weet hoe ‘n storielyn werk en hoe oortuigende karakters geskets word. ‘n Goeie skrywer is in die eerste plek ‘n goeie leser. En jy moet ‘n dik vel he om kritiek te kan hanteer, en ‘n harde kop sodat jy sal aanhou oorskryf en herskryf tot ‘n storie sy volle potensiaal bereik.

Gepubliseer in Taalgenoot, April 2008

Lees meer oor Jaco Jacobs by www.lapa.co.za