Janie Oosthuysen
……………………………………………………………………………………………………………..
Janie Oosthuysen skryf humoristiese aksieverhale, liefdes- en spanningsverhale. Sy is ook ‘n vertaler - die Afrikaanse Harry Potters en Narnia is van haar werk.
Sy het met ses onderskeidings aan die Hoër Meisieskool Bloemhof gematrikuleer en daarna skoolgehou en nog later Engels gedoseer. Ongeveer vyftien jaar gelede het sy voltyds begin skryf. Sy is al talle male bekroon, onder meer met die Akademieprys, die ATKV-prys en die C.P. Hoogenhout-medalje.
Janie woon in Kaapstad en word beskou as een van die mees innoverende kinderboekskrywers in Suid-Afrika. Haar werk sluit in Die verlore eiland, Daar is vlooie in my bed en die Bessie Hemelbesem-reeks.
Sy sê: “Ek weet hoe moeilik dit is om jou voete te vind in die kompeterende uitgewersbedryf. In die proses het ek baie kennis en kontakte opgebou; verder soek ek gedurig nuwe uitdagings. Die resultaat is die Skryfgeheime-kursus wat ek sedert Junie 2008 aanbied. Vir my lê die uitdaging daarin dat elke student ’n unieke talent het wat op ’n simpatieke wyse ontgin moet word. Studente wissel van professionele mense tot tuisteskeppers.”
Oor Bessie Hemelbesem: “Daar is seker niemand wat nie van ’n lekker storie hou nie. Maar dis nie so maklik om een te skryf nie. Dit help as iemand jou ’n bietjie handgee. Veral as daardie iemand die opwindende Bessie Hemelbesem is.”
“Bessie is ’n privaatspeurder wat op Langeraatsfontein woon. Sy lees graag die Snuffelhond, ’n tydskrif vol wenke vir speurders. By haar woon haar ma en pa, asook die knorrige tant Potjierol en die dapper seekoei, Pietersielie. Pietersielie eet net seldery – en dis ’n geluk, want seldery is al wat op die stowwerige Langeraatsfontein groei.
“Dis maar vervelig op Langeraatsfontein. Niks gebeur ooit daar nie. Maar op ’n dag verander alles. Die Hemelbesems gaan na Smokkelaarsbaai vir hul vakansie – en word met ’n vis aangeval …
“Die Bessie Hemelbesem-stories is net die ding vir almal van agt tot tagtig wat hou van ’n bietjie bang word en baie lag.”
……………………………………………………………………………………………………………..
Skryf ‘n storie saam met Bessie Hemelbesem
GRATIS hulpmiddel vir skole, skrywers, biblioteke, en andere, met komplimente van Janie Oosthuysen:
PLAKKAAT: Leer skryf ‘n storie
……………………………………………………………………………………………………………..
Skryfgeheime skryfkursus
Volg Janie Oosthuysen se praktiese Skryfgeheime-kursus en leer skryf daardie boek wat geen kind kan neersit nie. Werk per e-pos teen jou eie pas vir 12 maande en ontvang heeltyd terugvoer van ‘n ervare skrywer/redakteur.
Einddoel: ‘n Voltooide manuskrif, sinopsis en voorleggingsbrief.
Koste: R3995
Vir meer inligting:
www.skryfgeheime.co.za
janie@skryfgeheime.co.za
Inligting verkry van Janie Oosthuysen Augustus 2009
……………………………………………………………………………………………………………………………….

Ontmoet vir Bessie Hemelbesem. Sy bly saam met haar ma en pa in ‘n krom en skewe toringhuis op Langeraatsfontein. Bessie wil dolgraag ‘n speurder word wat opwindende sake ondersoek. Maar niks gebeur ooit op Langeraatsfontein nie… Alles verander egter toe tant Potjierol op ‘n dag in ‘n taxi voor die Hemelbesems se huis stilhou… Die eerste boek in ‘n lekkerlag-avontuur-reeks vol vreemde karakters en prettige situasies wat jou tone sal laat omkrul van plesier!
LAPA

Bessie kan nie wag om met vakansie te gaan nie. Smokkelaarsbaai klink na ‘n baie opwindende plek. En hulle gaan boonop in ‘n vuurtoringhuis bly! Kort voor lank vat Bessie die pad saam met Ma en Pa Hemelbesem, tant Potjierol en Pietersielie die seekoei. Maar watter geheime en gevare skuil op Smokkelaarsbaai? ‘n Lekkerlag-avontuur vol vreemde karakters en prettige situasies wat jou tone sal laat omkrul van plesier!
LAPA



