Koos Kombuis
Wie is Koos Kombuis?
Van my geboorte kan ek nie veel onthou nie. Ek weet wel dat dit gebeur het kort voor teetyd op 5 November 1954 in ‘n kraaminrigting in Duiwelspiek, Kaapstad. André le Roux du Toit is ek gedoop, maar op skool reeds het ek die bynaam Koos gekry. My ma was ‘n onderwyseres en my pa toe nog ‘n maatskaplike werker. Daar was nog nie iets soos kleur-TV in Suid-Afrika nie, selfs die alledaagse lewe was swart en wit, nes in die movie “Pleasantville”.
My vroegste herinneringe is dié van ‘n removal van, of, soos ek dit genoem het, ‘n “treklorrie”. My pa het dikwels van werk verander en daarom het ons ook aanhoudend getrek van dorp tot dorp. Terwyl my pa ge-dabble het in obskure goed soos Golden Products en Sanlam, het ek my kinder- en skooljare geslyt in Riversdal, Paarl, Wellington, Kuruman en Bellville. Uiteindelik het ons vasgehaak in Stellenbosch.
Skool was vir my baie boring, veral omdat ek myself al op drie leer lees het - van die agterkante van cereal-bokse af. Kytie, ons bediende en my grootste maat, het die leerdery aangejaag deur my elke dag te vra om vir haar die strokiesverhale in Die Burger te verduidelik. My vaardighede was egter beperk tot sekere gebiede. Voor die ouderdom van tien het ek reeds ‘n dosyn romans getik op my pa se Underwoord-tikmasjien, maar ek kon nog steeds nie my eie skoenveters vasmaak nie. My onderwysers het vas geglo ek is baie dom. In ‘n sin was hulle reg, want hoewel ek lief was vir lees en vir musiek, het ek geen ambisie gehad om ‘n akademiese loopbaan te volg nie.
Ek was mal oor die army en was daar laas so vet soos ek nou weer is! Toe al my vriende na ‘n jaar in die army Stellenbosch Universiteit toe gaan, het ek begin rondswerf van die een job na die ander. Ek was die meeste van die tyd in Johannesburg. Hierdie jare was baie donker en rigtingloos, maar ek het darem streetwise geword. Ek het my hand aan alles probeer: hoenders braai by Kentucky Fried Chicken, pizzas maak in restaurante, polisse verkoop, brande blus, klerk-speel in die staatsdiens en sulke goed. Ek het vir ‘n ruk selfs my lyf fortuinverteller gehou en vir verveelde huisvroue voorspel wat die geslag van hulle babas sou wees - hierdie beroep het immers ‘n 50% kans op sukses gehad, en ek was meer dikwels reg as verkeerd.
In 1976 het ek terug huis toe gegaan om te probeer vrede maak met my ouers, van wie ek toe al lank vervreem was. Ek het my pa-hulle heeltemal gek gemaak, want ek het hulle oral deur die huis gevolg om my nuutste (meestal swak) gedigte hardop vir hulle voor te dra. Hulle het gedoen wat ek ook sou gedoen het met so ‘n kind: hulle het my laat toesluit in die malhuis. Ek was ‘n jaar lank ‘n pasiënt in Saal 6, Weskoppies, tussen ‘n klomp drug addicts en skisofrene, voor een van die sielkundiges my ondersoek het en agtergekom het ek makeer niks nie. Tot my groot ontsteltenis het hy my dadelik ontslaan. Toe moes ek van voor af begin werk soek.
Bennie-Fritz, die verhale-redakteur van Huisgenoot, het uiteindelik tot my redding gekom. Hy het ‘n kortverhaal aanvaar wat ek vir hom gestuur het, en my gevra vir nog. Ek het af gehitchike Kaapstad toe en twee jaar lank op vryskutbasis vir Huisgenoot stories geskryf. Teen hierdie tyd was ek wel al so mal soos ‘n haas. Ek kon slegs met normale mense kommunikeer deur my skryfwerk; in my alledaagse handel en wandel kon ek net die taal van junkies praat. Ek sou geleidelik ook begin om saam met hulle drugs te vat, ‘n nare gewoonte wat ek eers in die middel-neëntigs sou afskud.
Gelukkig vir my, het my kortverhale in Huisgenoot gelei na groter sukses. Ek het my naam verander na André Letoit om verwarring met ander skrywers te voorkom en ‘n hele paar boeke (romans, kortverhale en gedigte) gepubliseer gedurende die volgende paar jaar. Toe ek verveeld raak met die erns van die literêre wêÍreld, het ek ‘n kitaar gekoop en begin liedjies skryf. Die een ding het gelei na die ander, en vandag het ek nege CD’s agter my (nuwe) naam - Koos Kombuis. Die verlange na skryf het egter ook weer te groot geraak; in 2000 voltooi ek uiteindelik ‘n lank beloofde outiobiografie ( Seks en Drugs en Boeremusiek - NB Uitgewers), dit word gevolg deur ‘n roman ( Hotel Atlantis - NB Uitgewers), ‘n satire in Engels ( The Secret Diary of God - Zebra Press), ‘n riller ( Raka, die Roman - NB Uitgewers) en 3 versamelings van voorheen gepubliseerde rubrieke ( My Mamma is ‘n Taal; Afrikaans my Darling en Die Dieper Dors - almal deur NB Uitgewers)
Nou woon ek in ‘n nice voorstedelike huis, ek ry ‘n Nissan X-Trail en ‘n (geborgde) Toyota Quantum BUS! En ek het ook ‘n vrou, twee babies, DSTV en genoeg life insurance dat ek nie my vrou onnodig kwaad maak nie. My ma, wat nog leef (my pa is reeds oorlede), is baie trots op my!
DIE SKRYWER
Lees en skryf was van kleins af my grootste liefde - ek onthou nog goed hoe ek as tjokkertjie agter my pa se reusagtige Underwood-tikmasjien gesit het en die alfabet met twee vet wysvingertjies geslaan het. Die tikmasjien was so hoog dat ek op my knieë bo-op ‘n klomp kussings, bo-op ‘n hoë stoel moes sit om by te kom.
Die boeke wat ek wou lees, was gelukkig nie so moeilik om by te kom nie. Die Agatha Christies en Raymond Chandlers op die hoë rakke het my nie geïnteresseer nie. Ek het meer belang gestel in die rytjie boeke op die heel onderste rak. Dit was ‘n klompie stowwerige literÍre boeke wat ons by my Oupa present gekry het. Oupa Schoonees was self ‘n interessante man; hy het geweier om by die Broederbond aan te sluit, en so net-net rektorskap van Stellenbosch Universiteit vrygespring ! Later jare het hy ‘n onskatbare bydra gelewer tot die samestelling van die HAT. As klein seuntjie het ek ure op die mat voor die boekrak deurgebring met my neus in ou digbundels deur Totius en Toon van den Heever. Ek onthou dat ek een dag in trane was oor Eugène Marais se gedig Skoppensboer; nie omdat die gedig my hartseer gemaak het nie, maar omdat my ouers nie die gedig vir my wou verduidelik nie!
My eerste pogings as volwasse skrywer was meestal soetsappige snert - die soort stories wat maklik in gesinstydskrifte gepubliseer is, en ‘n paar rand in my sak beteken het. Ek was buitendien te lui om eerbare werk te doen ! Later, as André Letoit (die uitgewers en literêre boffins kon dit so mooi in Frans uitspreek, sonder om ooit te besef dat dit maar net ‘n anagram vir toilet was!) het ek ‘n skielike vloed van publikasies die lig laat sien. Drie digbundels, drie kortverhaalbundels, vier romans, en een bundel korrespondensie het verskyn by uitgewers HAUM Literêr, Human en Rousseau en ander. Hierdie boeke is wel hoog aangeskryf deur al wat ‘n resensent is, maar ek weet dat dit ver van my beste was. Ek was self pretentious en vreeslik opgewonde oor al die fancy lunches en skemerkelkies saam met die literati ! Meerste van hierdie boeke is nie meer beskikbaar nie, maar Suidpunt Jazz (2005) en Somer II (2006) in onlangs her-uitgegee deur Human & Rousseau.
My eerste ordentlike boek, is ek sad om te sê, was Engels. Dit is ‘n futuristiese feministiese fabel met die titel Paradise Redecorated, en was ook die eerste boek wat onder my nuwe naam, Koos Kombuis (Koos - my ou bynaam, en Kombuis - omdat ek toe in ‘n kombuis gewoon het en aan niks beter kon dink nie), gepubliseer is. Ek sou graag ‘n nuwe weergawe van die boek wou skryf en natuurlik wil ek baie graag ‘n meesterstuk in Afrikaans publiseer! Bitterkomix publiseer in 1998 vir die eerste keer in jare ‘n digbundel van my, Die Tweede Reën; ‘n versameling effens dated gedigte wat ek reeds in die vroeë nineties geskryf het, meestal onder die invloed van ‘n paar verbode middels.
Behalwe om “rêrige” boeke te skryf, is een van my gunsteling stokperdjies die saamflans van self-gepubliseerde, gefotostateerde knip-en-plak boekies. So verskyn Afrikaans My Darling, O - ‘n Ronde Roman in hierdie formaat.
Ek is regtig trots op my latest pogings; Seks en Drugs en Boeremusiek, ‘n outobiografie wat my gehelp het om van ‘n klomp hang-ups ontslae te raak; Hotel Atlantis, wetenskapfiksie oor die laaste dae… en The Secret Diary of God, ‘n storie wat ek al jare in my rond dra en uiteindelik kon vertel en die riller, Raka, die Roman, wat my so bang gemaak het terwyl ek dit geskryf het, dat ek sommer weggeloop het vir ‘n dag of wat!
Ek skryf ook ‘n rubriek, Koos se Spens, vir die Litnet Website en elke twee weke enetjie vir en maandeliks vir die tydskrif Wegbreek. So af en toe vra glanstydskrifte soos Insig en De Kat my om ‘n bydrae te lewer en dan geniet ek dit ook vreeslik om te blog . Daar het reeds drie versamelbundels met rubrieke verskyn - My Mamma is ‘n Taal, Afrikaans, my Darling en Die Dieper Dors, almal by Human & Rousseau.
Alle inligting verkry vanaf www.kooskombuis.co.za
Koos se boeke:
- SUIDPUNT-JAZZ Heruitgawe (Human & Rousseau, 2004)
- SOMER II Heruitgawe (Human & Rousseau, 2006)
- SUBURBIA Heruitgawe (Protea Boekhuis, 2003)
- DIE GEEL KAFEE Heruitgawe (Protea Boekhuis, 2003)
- SEKS & DRUGS & BOEREMUSIEK Outobiografie (Human & Rousseau, 2000)
- HOTEL ATLANTIS Roman (Human & Rousseau, 2002)
- RAKA - DIE ROMAN (Human & Rousseau, 2005)
- MY MAMMA IS ‘n TAAL Versameling Prosa (Human & Rousseau, 2003)
- AFRIKAANS MY DARLING (Human & Rousseau, 2003)
- DIE DIEPER DORS Versameling Prosa (Human & Rousseau, 2006)

