Martie Preller
Martie Preller is een van die mees geliefde Afrikaanse kinderboekskrywers en het reeds verskeie toekennings vir haar werk ontvang, waaronder die Tienie Holloway-medalje vir kleuterliteratuur vir Babalela.
……………………………………………………………………………………………………………………………….
Trisa Hugo van die virtuele leeskring Boekemakranka het met Martie gesels oor haar nuwe publikasies: Die land van stories en Vandag is nie gister nie.
……………………………………………………………………………………………………………………………….
Meeste van ons ken jou as Babalela en Balkie se ma, maar jy is ‘n veelbekroonde skrywer van ‘n hele boekrak vol kinder- en jeugboeke. Op watter manier het dit jou gehelp om in hierdie projek in te groei?
Ek weet nie eintlik nie – behalwe dat ek baie ervaring het van baie verskillende soort stories het. Ek dink ervaring is altyd ’n bate – al is elke nuwe storie weer ’n nuwe soort uitdaging. Ek het met die baie skryf saam, mettertyd ontdek dat daar storiepatrone is, al is daar, helaas, nie storieresepte nie!
Hierdie is dan ook op ‘n manier jou eerste baba. Was dit moeiliker, of makliker om vir die volwasse mark te skryf?
Dit was net anders. Wanneer ’n mens na die verskillende genres kyk, is die jeugroman nie naasteby so ver van ’n volwasse roman as wat ’n prenteboek van ’n jeugverhaal is nie. ’n Jeugverhaal is maar net ’n korter roman met jongmense as karakters, terwyl ’n prenteboek weer iets heeltemal op sy (of haar) eie is.
Elke boek het ook sy (of haar!) eie nonsens. Party was “makliker” om te skryf en ander “moeiliker”. Hierdie boek het haar eie nonsens gehad J . Dis ook moeilik om later te onthou hoe iets gebeur het! ’n Mens onthou selektief, dink ek! Hierdie is die langste boek wat ek nog ooit geskryf het en die lengte en die gepaardgaande omvattendheid daarvan was ongewoon vir my.
Wat het jou eintlik gemotiveer om hierdie ding aan te pak?
Ek wil met albei boeke deel. Dit is vir my baie belangrik om te deel. Ek dink as elkeen deel wat vir hom/haar spesiaal is, kan die wêreld net ’n beter plek wees. Stories is vir my baie, baie spesiaal en dis wat ek kan deel. (Ek kan baie beslis nie koek bak of klere maak nie. Ek kan baie getuies inroep om dit te bevestig!) Aan die een kant wil ek nog ’n storie deel en aan die ander kant wil ek deel wat ek ontdek het op my reis as mens en skrywer in die land van stories waarin ons almal bly!
Het jou karakters hulle beter gedra as wanneer hulle klein is? Of is hulle maar so wederstrewig soos die mensdom is?
O jinne nee! Die hele spul is onmoontlik. Eiesinnig en koppig en as jy hulle nie toelaat om hulle storie te vertel soos húlle wil nie, kry die hele spul van klein tot groot (van pers of wollerig tot op die oog af “normaal”) die stilstuipe of hulle pla jou in die nag, totdat jy vodde is en hulle hulle sin gee.
Ek sê “projek”, want jy gee terselfdertyd ‘n roman en ’n storiemaak-kursus uit. Hoe hou hierdie twee boeke verband?
Hulle het saam gebeur, dus moet daar sekerlik ’n verband wees. Ek dink (na ek klaar geskryf het wat geskryf wou word) dat die roman op ’n manier, dalk, as jy so wil, gesien kan word as ’n soort storie-manifestasie van die storiemaak-kursus. Maar jy kan die verband, indien enige, interpreteer nes jy wil. Die skrywer skryf en dan lees die leser en die leser mag en moet presies dink en doen wat hy/sy wil!
Die uitgewersbedryf verander ook noodwendig met die verandering in tegnologie, tegnies is dit makliker om jou eie boek uit te gee. Watter nuwe talente het jy ontdek in die proses?
Noukeurigheid! Ek is haastig van geaartheid, en skryf het my al klaar groter geduld geleer. Om boeke self uit te gee het my nmeer geduld geleer – wat ek waarskynlik al amper weer vergeet het en sekerlik van voor af sal moet leer. Maar dit is ’n bemagtigende ervaring om boeke self uit te gee en alles in jou eie hande te neem.
Jou storiemaak-kursus - Hoe verskil dit van wat op die mark is? Wat IS op die mark?
Ek weet nie of daar iets anders soortgelyk in Afrikaans beskikbaar is nie. Dis prakties en vol inligting – maar die lekkerste stories kom as ’n mens unieke stories kan skryf en daarom is die boek vol moontlikhede, sodat jy jou eie storiepad kan kry. Dis ook vol skryfopdragte wat die leser/skrywer in staat stel om die riglyne wat aangebied word te internaliseer en jou eie te maak. ’n Mens raak dikwels opgewonde oor nuwe maniere en dan vergeet jy alles weer – dis eers wanneer jy nuwe inligting dé van jou gemaak het, wat dit blywend is. En ’n mens leer nie fiets ry deur vir ’n fiets te kýk nie – jy moet ry! As jy moet skryf, moet jy skryf!
Gaan jy dit opvolg met werkswinkels? Het jy al ‘n struktuur sodat mense jou kan nadertrek daarvoor?
Ja – daar is inligting op my webwerf daaroor.
Watter vraag het jy gehoop vra ek jou nie? Antwooord dit asseblief!
Hie Hie. Dis ’n gemene vraag … Nie rêrig gehoop jy vra nie – maar die vraag of die stories outobiografies is of outobiografiese elemente bevat , is nogal moeilik om te antwoord, want aan die een kant is dit natuurlik nie en aan die ander kant wel, in die sin wat Kundera so mooi stel: … the characters in my novels are my own unrealized possibilities. That is why I am equally fond of them and equally horrified by them. Ek dink nie een lewe is vir my genoeg nie, nou het ek baie lewens! Ek was al op ’n albatros se rug en dit was vrék koud, laat ek jou dit vertel! J
Watter vraag het jy gehoop vra ek, wat ek nagelaat het om te doen? Antwoord dit asseblief.
Ek weet nie! Julle moet maar nog vra, as julle wil.
Waar kan mense die boeke bestel, en wat kos dit?
Op my webwerf. Die openingsaanbod is R130 + R25 posgeld. Die boeke sal ook op ’n paar plekke in die land by vriende en familie beskikbaar wees as iemand dit daar wil kry om posgeld te spaar. Boekwinkels vra 40% van die die boek se prys, dus wil ek dit liewers eers so doen.
……………………………………………………………………………………………………………………………
Publikasies
1992: Jy en die draakakkedis(J.L. van Schaik)
1992: You and the dinosaur (J.L. van Schaik)
1993: Jy en Hercules (J.L. van Schaik)
1994: The Friendly Elephant (Hodder & Stoughton)
1994: Daar’s ‘n spook in my kas (Human & Rousseau)
1994: Nicola B: Streng Privaat (Tafelberg)
1994: Jy en Toetenkat (J.L. van Schaik)
1994: Anderkantland (Tafelberg)
1994: Van die banke op die planke (Kagiso) Een bydrae in dramabundel vir kinders
1995: ‘n Haas moet doen wat ‘n haas moet doen (Human & Rousseau)
1996: Tersia Thom 1: Vriend of vyand (Tafelberg)
1996: Tersia Thom 2: Die Donkerhoek-driehoek (Tafelberg)
1996: Tersia Thom 3: Skerwe in drome (Tafelberg)
1996: My naam is Alexander en wat daarvan? (Kagiso)
1996: In die tyd van die Esob (Tafelberg)
1997: Op die spoor van die Lesea-vanger (Juta)
1997: Droomvangers (Human & Rousseau)
1998: Tersia Thom 4: Bloed is die kleur van ivoor (Tafelberg)
1998: Maar my magtig, Moesoek (Tafelberg)
1999: Perfectly Me (Cambridge University Press)
1999: Vonkfiksie (Human & Rousseau) - twee bydraes
2000: Die Balkieboek (Human & Rousseau)
2000: Babelela (LAPA)
2000: Anderekantland (Koninklijk Instituut voor de Tropen)
2001: Lisa het ‘n plan (LAPA)
2003: Eendag was daar ‘n storie! - ‘n Praktiese Storiemaakkursus (Tafelberg)
2003: Ek is Simon (Tafelberg)
2003: I am Simon (Tafelberg)
2003: Skilpad sonder ‘n dop (Nasou-Via Afrika)
2003: Tortoise without a head (Nasou-Via Afrika)
2003: Die eensame draak (Nasou-Via Afrika)
2003: The Lonely Dragon (Nasou-Via Afrika)
2003: Daar’s ‘n spook in my kas (Nasou-Via Afrika)
2003:My Cupboard is Haunted (Nasou-Via Afrika)
2003: Jamie en Sebastiaan (LAPA)
2004: Balkie en die Kleurdief (Human & Rousseau)
2004: Die Hart van Zeebak (Tafelberg)
2004: Diep, diep in ‘n donker bos (LAPA)
2004: Afrika Vertel (Nasou-Via Afrika)
2004/2005: Balkie en die son se slaapplek (Best Books)
2004/2005: Balkie and the Sun’s Resting Place (Best Books)
2004/2005: Balkie en die woeste virus (Best Books)
2004/2005: Balkie and the Vicious Virus (Best Books)
2004/2005: Balkie en die lugrowers (Best Books)
2004/2005: Balkie and the Pirates of the Sky (Best Books)
2007: Jy en die dinosourus (LAPA)
2007: Jy en Hercules (LAPA)
2007: Jy en Toetenkat (LAPA)
2008: Jamie en Sebastiaan en die storiemol (LAPA) saam met Martie Kruger
2008: Lisa het ‘n plan (LAPA)
2008/2009: Loebi-leesreeks (www.kinderwerf.co.za)
2009: Vandag is nie gister nie - ‘n spanningsverhaal vir volwasse lesers
2009: Die land van stories - ‘n praktiese storiemaakkursus - Vir almal met ‘n liefde vir stories
Stories en sketse
Verskeie kortverhale en artikels vir tydskrifte asook sketse vir radio.
TV-Draaiboeke
3-UP (Draaiboeke vir gedeelte van die programme) (e-tv)
Thysie Kwadraat (Volwasse drama vir SABC2)
A Child of Africa: (Sonneblom Films)
Gereelde kinderstories in tydskrifte
Maandelikse kinderstorie (Balkie) in rooirose (Januarie 1993 - Desember 2005)
Weeklikse kinderstorie (Jamie en … Sebastiaan) in vrouekeur (April 2000 - 2004)
Maandelikse storie (Kanja die Derde) in rooirose, saam met Martie Kruger en Heidi Fivaz (illustrasies) (Januarie 2006 - April 2008)
………………………………………………………………………………………………………………………………
Toekennings
1994: Silwer Sanlamprys vir Jeuglektuur vir Anderkantland
1996: ATKV-kinderboektoekenning vir Daar’s ‘n spook in my kas
1996: ATKV-kinderboektoekenning vir Jy en Toetenkat
1996: C.P. Hoogenhout-medalje vir Anderkantland
1996: Sanlamprys vir Jeuglektuur vir In die tyd van die Esob
1998: In die tyd van die Esob word verkies vir die Ererol van IBBY (International Board on Books for Young People)
1999: Naaswenner in Vonkfiksiekompetisie van DE KAT/ Human & Rousseau
2001: Alba Bouwerprys vir Kinderlektuur vir Die Balkieboek
2002: ATKV- kinderboektoekenning vir Die Balkieboek
2003: Tienie Holloway Medalje vir Kleuterliteratuur vir Babalela en Lisa het ‘n plan.
2004: M.E.R Prys vir Kinderliteratuur vir Ek is Simon
2006: Tienie Holloway Medalje vir Kleuterliteratuur vir Diep, diep in ‘n donker bos
………………………………………………………………………………………………………………………………

