Die dae toe ek Elvis was

deur François Bloemhof

Well, it’s one for the money.
Two for the show, Three to get ready ….
en ek wonder of dit my lewe gaan wees dié: Hurry up en wag vir Niks met ‘n groot F om te gebeur. Ek kyk na kamer 9 se verveelde gesigte. Is dit al wat ons gemeen het?
Now go, cat, go!
Hoeveel van hulle sal dit enduit kan saamsing? As ek so om my kyk na die ses en twintig ander wat so oud soos ek is en saam met wie ek elke dag moet luister na ‘n ouer skepsel wat praat oor goed wat net so min met ons te make het soos boeremusiek met ‘n ruimteskip, tel ek maar die dae tot die einde van matriek. Na vandag is dit nog tweehonderd en vyftig. ‘n Leeftyd.
Now go, cat, GO!
As hulle in tydskrifte praat van “die hedendaagse tiener”, voel dit nie soos ek nie. My dag kom nog. Okay, binne perke. Ek gaan volgende jaar swot, al wil ek nooit ‘n job hê wat ander mense “werk” noem nie. Laat húlle maar in ‘n grys gebou agter ‘n lessenaar sit, laat húlle ‘n uniform dra; ek doen dit al elf en ‘n halwe jaar lank, ek gaan dit wragtig nie nog doen as ek hier uitkom nie.
Mev Hoffman luister na Andrew se mondeling. Haar ooglede lyk swaarder as ooit. Ek twyfel of sy werklik so geïnteresseerd is in sy verduideliking van hoe om met duiwe te boer as wat sy voorgee.
Dan weer, ek vind min van my klasmaats interessant.
Ons is die A-klas, dié wat Engels op hoër graad neem; God’s gift to the school, só glo die meeste. Ek hou meer van die B-klas, al is daar ‘n klompie vlakkes tussen hulle. Ek hoort nie rêrig hier nie. En ek hoort ook nie rêrig by die B-klas se kinders nie; hulle sal nie sommer iemand van die A-klas vertrou nie.
Buiten Richard en Charmaine. Charmaine! Sy gaan ook volgende jaar Stellenbosch toe. Sy glimlag. Ek kan nie glo mevrou Hoffman is haar ma nie. Gaan Chairmaine ook só lyk as sy oud is? Okay, mevrou Hoffman is nie óúd nie, maar sy’s beslis nie jonk nie. Ek twyfel of sy ooit was.
CJ you’re sleeping again.”
“Nee, mevrou, I mean, no, ma’am.”
“In that case, you can be next.” Sy doen dit partykeer: pik op ‘n mens, kyk of sy jou kan embarrass. Haar idee van dissipline. Ek moet vir haar ‘n vreeslike pyn in die gat wees, maar anders as die res van die klas, hou ek van die aandag.
Ek loop vorentoe. Nie al die gesigte is vriendelik nie; ek dink hulle raak vies omdat ek nie inmekaarkrimp as ek voor hulle moet staan en praat nie.
“Today,” en ek wag net lank genoeg om afwagting te skep maar nie hulle aandag te verloor nie, “you’re probably all wondering what I’m going to talk about.”
“Hoeveel raaie kry ons?” vra Louis. Hy like my niks.
“Quiet in the peanut gallery!” beveel mevrou Hoffman.
“I’m going to talk about Elvis Presley,” kondig ek aan, en weet reeds wat gaan kom.
‘n paar sugte gaan soos gewoonlik op.
“All right, that’s enough!” sê mevrou Hoffman. Dan vir my: “CJ, I told you last time that I don’t want to hear another oral about Elvis.”
Ek help haar reg: “Ma’am, you said I mustn’t talk about his music again. Today I’m going to tell you a bit about his life.”
Sy kyk my net aan.