OP PATROLLIE

deur NAOMI VAN NIEKERK

Chris:

[steek vas] Wat is dit, Doep?

Jy’t ‘n myn afgetrap? Wat? Jy’t hom hoor afgaan, die kliekgeluid.

Okay, Doep. Ons gaan plan maak, Buddie. Dis goed jy’t hom hoor afgaan. Moenie roer nie. [Kort bevel vir ander lede van patrollie.] Neil! Scottie! Gee vir ons dekking! Willie, kontak basis. Hulle moet vir ons ‘n sapper stuur. Pronto!

Nee, Doep, ek sal nie pad gee nie. Jy’s my Buddie en jy’t my nodig. [Kalm] Hoe praat jy dan nou? [Hy steek sy bajonet versigtig en sistematies, duim vir duim, in die sand om elke stukkie grond te dek. Dis ‘n baie tydsame en gevaarlike proses, want hy kan moontlik ‘n ander landmyn wat ook daar begrawe is, raaksteek.] Ek begin soek-steek, Doep. Vasbyt ou maat.

Ja ek het gehoor wat jy sê, maar my magtig man moenie vir my sê ek moenie nader kom nie! Daar kan ‘n ander een ook wees, dan trap jy dit af! Moenie eers probeer omdraai en vir my KYK as ‘k met jou praat nie. Ons kan nie wag totdat hulle vir ons ‘n sapper stuur nie!

Ek begin maar solank soek-soek, Doep. Vat dit kalm. Ons is mét jou. Jy’s nie geïsoleer nie.

Ons is sáám in die ding en ons gaan saam hier padgee. Die soek-steek neem bietjie lank, nè, maar nóú is halwe werk konkelwerk of hoe sê ek, Doep?

Doep, daardie keer toe ons gepraat het, onthou jy toe al die ouens al geslaap het?

Dis nie ék wat gesê het “vir elke ding is daar ‘n tyd” nie. Dit staan daar geskryf. En ek glo dinge word vir ons bepaal.

Kalm bly, ou Doep. Ons gaan saam kop hou. Net rustig, moet nie jou gewig verskuif nie. Ek is naby jou, ek kan enige oomblik die myn met my bajonet raaksteek.

Ja jy kan so staan want die toekoms is naby. [Steek metaalvoorwerp raak.]

Ek’t dit raakgesteek! Dit was soliede metal, hard, maar MOENIE ROER NIE. MOENIE JOU GEWIG VERSIT NIE!

Kalm bly, my Buddie. Vat dit kalm. Die chopper kom met die sapper! Vat dit kalm, Buddie.

[Bevel streng] Doep! Wat se lamsakkerigheid is dit! Ruk jou reg, troepie!

Dis nie óór nie. Ons wag nie vir die sapper nie. Ek gaan die myn self onskadelik maak. [Buk versigtig op sy knieë] Staan net doodstil terwyl ek…so…die sand…liggies…wegvee.

Doep, Buddie – as ons tyd daar is, dan is dit so beplan. Ek aanvaar dit. [Blaas, vee. Chopper land.]

Ek het hom, Doep – die ding lê oop voor my. Moenie afkyk nie! Dis ‘n druk-ontlasmyn. Jy staan met jou linkervoet daarop. Ons het die situasie onder beheer, hoor! Vat dit net kalm, ou een, nie meer lank nie. Ons gaan die myn sommer NOU onskadelik maak.

Ons kan vir die sapper wag. Maar ék gaan solank daarmee aan! [Sien Doep is klaar.] Luister mooi, ek gaan al om jou voet werk. Moenie ingedagte jou voet werk. Moenie ingedagte jou voet verskuif nie. Jy verstaan? Ek gaan óm jou voet werk. Plánt daardie voet. Doep, plant hom!

Amper, amper, ons is byna daar. So ja. Daar lê die duiwelse ding! Nou net my hand versigtig ónder jou voet instoot sodat die drukking nie verander nie. Dís waar die gevaar lê, dat jy dalk jou voet te gou lig om plek te maak vir my hand. Ek gaan daardie meganisme vang en áfhou.

Ek is dáár. Ek voel hom, nie ‘n ooglid verroer nie, amper daar. Ek hét hom. [Sapper verskyn.] Sapoper jy kom asof jy gestuur is. Hier….die knippie, ek hét hom! Lig maar jou voet, Doep. Dis verby, dis alles verby, Buddie. Het jy dit, sapper? Doep, my ou Buddie! Kom. Hulle’s hier. [Neem Doep weg.] Hulle gaan dit onskadelik stel. [Af.] Kom, ou Doep! Kom, Buddie.