SKILPOPPE

deur BARRIE HOUGH

Musiek

“Anyway, daar staan ek toe soos ‘n klip, sonder my teks. My rug is ‘n besemstok en my hande twee trosse piesangs. Marcel leun teen die muur en glimlag effe vir my. Hy’s in beheer van die situasie.”

Ek klem my vuiste terwyl ek elke skrikwekkende oomblik herlewe. Ek en Ching-kung sit in sy kamer. Hy vat my hande en ontknoop my vuiste.

“Relax, Anna,”

Hy hou my hande tussen syne vas.

“Jy kan my later alles vertel. Haal diep asem.”

“Jy klink nou nes Ma.”

“Maar dis waar. Verbeel jou jy hoor musiek, die musiek van die skemer. Van eensaamheid en depressie.”

Voor ek kan reageer, praat hy weer. Gedemp.

“Raak jy ook depressed teen skemer? Dit het Sebast altyd gevang. Daardie grys tyd waarin jy niks kan sien nie; tussen die tyd dat die son sak en die ligte en sterre die donker breek.

Sebast het die feeling sy swart hond genoem, die swart hond wat in sy spoor trap. Toe dit erg was, het ek hom vasgehou. En soms vir hom gesing. Tot die nag se ink die venster ingekleur het en die eerste straatligte begin skyn. Ek het hom verstaan, want ek weet ook hoe dit voel om blue te raak. Hy het net nooit vir my gesê hoe erg sy depressie was nie. Ek het ook nie geweet dat jou pa so gekant was teen ons verhouding nie. Hy het my nooit vertel nie. Ek wens hy het.”

Ek kyk na Ching-kung met ander oë. Hy’s baie mooi, sexy op ‘n manier. Nou nie my soort sexy nie. Maar sexy. Ek kan verstaan dat my broer lief was vir hom Die gentleness straal so uit hom uit. Maar hy het nooit vooheen só met my gepraat nie. Altyd sy gevoelens weggesteek. En nou skielik maak hy die deur vir my oop.

Hy leun vorentoe met sy kop teen my bors. Ek sit my arms om hom, hou hom vas en sing ‘n liedjie wat ons op skool geleer het: “On the wagon, bound for market, there’s a calf with a mournful eye ……”

Ons sit so tot dit donker word.