Stel kind voorskools reeds bloot aan lees

Hoe meer jy lees, hoe meer dinge sal jy weet.

So het Dr. Seuss gesê en dís nou ’n man wat geweet het waarvan hy praat.

Dié kinderboekskrywer en -illustreerder se 44 boeke, waaronder Die Loraks (reeds in 1973 in Afrikaans vertaal deur Leon Rousseau), Die kat kom weer (nog ’n Rousseau-vertaling) en Green Eggs and Ham bekoor kinders en ouers wêreldwyd al jare lank.

Dr. Seuss het goed verstaan hoe belangrik volwassenes se rol daarin is om kinders se leeslus te prikkel en het geskryf dat jy nooit te oud, te laf of te wild is om vir ’n kind te lees nie.

Begin sommer babatyd al hiermee, sê Miemie du Plessis, bestuurder van kinder- en jeugboeke by LAPA Uitgewers.
“Dit is nooit te vroeg om kinders te leer dat boeke belangrik en pret is nie. Begin vir jou baba lees van die ouderdom van ses maande, of vroeër. Selfs al verstaan jou baba nie ’n woord wat jy lees nie en is sy meer geïnteresseerd om die boek te eet as om dit te lees, bevorder lees die baba se sin vir liefde en sekuriteit.

“Die gevoel van geborgenheid wat sy ervaar tydens dié saamleessessies gaan haar ewig bybly.”

Sulke leessessies laat positiewe assosiasies met boeke vorm.

“As die leeservaring vir kinders lekker is, sal hulle lewenslank lesers wees,” meen Du Plessis, self die ma van twee kleuters.

L-e-e-s- en t-a-a-l-ontwikkeling

Volgens Christien Neser, ’n spraakterapeut en jeugboekskrywer, wek die intieme voorleeservaring tussen ouer en kind vertroue.

“Tussen 0 en 18 maande is twee stelle dinge in jou kind se ontwikkeling in konflik: vertroue en wantroue. Wanneer jy met jou kind op die skoot voorlees, voel sy jou hartklop, die hitte van jou skoot en sy hoor die ritme van jou stem.”
Só leer sy geborge voel in haar moedertaal.

“’n Kind moet van kleins af kan onderskei tussen die klank van sy eie taal en ander tale,” sê Neser.
Jy hoef nie ’n klein biblioteek te besit om jou kind se leeslus en taalontwikkeling aan te wakker nie, maar jy moet baie lees, maan Susan du Plessis van Edublox, wat landwyd lees- en leersentrums het.

Links en regs

Deur saam met jou kind deur boeke te blaai en te lees, leer jy hulle ook om te onderskei tussen links en regs, sê Susan.
Neser beaam dat die “kruising van die middellyn” – ’n onmisbare vaardigheid – deur blootstelling aan boeke gestimuleer word.

“Van so drie maande af kan jy jou kind wys hoe om deur ’n boek te blaai. Só rig jy haar af om van links na regs te kyk. Dit het ’n impak op oogbeweging en hoe ’n mens lees,” sê sy.

Sy waarsku ook dat ’n kind wat eenkant met ’n tablet speel nie ’n plaasvervanger vir saamlees is nie. ’n Vingerbeweging oor ’n skerm is nie dieselfde as om deur ’n boek te blaai nie.

Neser sê ook lees help om ’n roetine te vestig.

“As jy ’n kind van voorskool in die bed sit met ’n boekie, raak dit roetine. Jy mag ’n kind nooit reguit van die televisiestel af jaag om te gaan slaap nie. Sy brein is te opgejaag en hy moet kalm raak.

“Sit jou kind in die bed met ’n boekie wat hy kamma-lees, of wat jy voorlees voor slaaptyd.”

Reg vir ‘grootskool’

Deur jou kind op voorskoolse vlak aan boeke bloot te stel, ontwikkel jy sy voorgeletterdheidsvaardighede, meen Miemie du Plessis.

“Kinders vir wie daar voorgelees is, leer om vroeër, beter en met groter gemak te lees wanneer hulle skool toe gaan,” sê sy.
“Hul aandagspan, vermoë om gebeure te orden en woordeskat is beter as dié van kinders vir wie nie voorgelees is nie.
“ ’n Kind sonder voorgeletterdheidsvaardighede het ’n onbetwisbare agterstand op skool omdat skoolonderrig gegrond is op die aanname dat kinders reeds oor dié vaardighede beskik.
“ ’n Gebrek hieraan maak dit vir die kind moeiliker om lesse te begryp en om by te bly met die akademiese leerplan.”

Wenke om boeke te kies

  • Doen navorsing op uitgewers se webblaaie en hul Facebook-bladsye om te sien watter nuwe kinderboeke beskikbaar is.
  • Kies boeke met temas wat ’n kind sal herken (“troeteldiere”), waarin hy/sy belang stel (“ballet”/“rugby”) of waarmee hy/haar kan vereenselwig.
  • Kinders hou van kort, eenvoudige stories met eenvoudige illustrasies of foto’s van bekende voorwerpe. Kleuters is mal oor stories.
  • Kies boeke met humor en rym.
  • Hou jou ore oop vir ander ma’s of onderwysers se aanbevelings.
  • Jy ken jou kind. Doen moeite om deur baie kinderboeke te blaai en te lees om die regte boeke te kan kies.
  • Skrywers het gewoonlik ’n spesifieke styl. As jou kind mal is oor ’n boek, soek na nog van dieselfde skrywer.
  • Moet jou kind nie net blootstel aan boeke van jou kinderdae nie. Daar is wonderlike nuwe boeke en skrywers.
  • Moet jou nie blindstaar teen ouderdomsaanduidings op boeke nie. Kies boeke na gelang van jou kind se leesvlak.
  • Laat jou kind sélf boeke kies en uitneem by die biblioteek.

Lees belangrik vir bestaan

Miemie du Plessis stel ook dié wenke voor om jou kind lief te maak vir lees:

  • Stel ’n goeie voorbeeld. Lees waar jou kinders jou kan sien en praat oor wat jy gelees het. Dit is veral belangrik dat seuns volwasse mans sien lees.
  • Deel jou herinneringe van jou gunsteling-kinderboeke met jou kind.
  • Skep tyd vir gesin-leestyd. Skakel die televisie af, maak eetgoed en laat almal vertel wat hulle lees.
  • Sorg dat daar boeke en nog leesmateriaal soos tydskrifte en koerante is. Kleuters moet dit maklik kan bereik.
  • Wys jou kind lees is belangrik vir ons daaglikse bestaan, van die weerberig tot die sake-ure van winkels.
  • Vergeet van reëls as dit by leesaktiwiteite kom. Moenie druk op jou kind plaas oor die hoeveelheid bladsye of boeke wat hulle moet lees binne ’n sekere tydperk nie.
  • Plaas druk op skole om genoeg tyd aan lees te bestee.
  • Probeer voldoen aan kleuters se versoeke vir stories lees.
  • Vra ouer kinders om vir jonger sibbe voor te lees.
  • Maak ’n ophef van jou kind se leesvermoë.
  • Moenie moed opgee met ’n trae leser nie.
  • Lees op opwindende plekke soos in die tuin in ’n tent.
  • Verbind aktiwiteite met boeke soos diereboeke as julle wildtuin toe gaan.
  • Rig ’n spesiale leeshoekie in.
  • Gebruik handpoppe en ander speelgoed wanneer jy ’n storie voorlees.
  • As jou kind wil, kan sy vir haar poppe oor “voorlees”.

Net ’n paar minute per dag

Om te leer lees is soortgelyk aan yshokkie speel, sê Susan du Plessis van Edublox. “Dit werk in vlakke. Jy leer eers om die hokkiestok vas te hou, dan om die bal te slaan, dan om te ysskaats en dan kombineer jy alles.”

Die vaardighede wat kinders moet aanleer om te kan lees – waarop daar ook by Edublox gefokus word – werk ook in stappe: Hulle moet leer hoe om te konsentreer en besef hulle kan hul konsentrasie weer herfokus as hulle dit verloor het.
Die volgende stap is om die waarnemingsvermoë te ontwikkel, wat sorg dat kinders kan onderskei tussen ’n voor- en agtergrond, kleur en vorm, groottes en posisies in ruimte. Dit help hulle byvoorbeeld om te onderskei tussen die verskillende steeltjies van ’n “d” en ’n “b”.

Kinders se geheue-vaardighede moet ook geoefen word.

“Reeks-geheue help jou om iets in ’n sekere volgorde te onthou. Jou langtermyngeheue help jou om die woord nie net vir die speltoets te onthou nie, maar ook wanneer jy dit later in ’n sin moet skryf. Jou werkende geheue help jou om kennis te manipuleer wanneer jy byvoorbeeld ’n woordsom doen.

“Logiese denke speel ook ’n rol in leesbegrip omdat jy kan antisipeer waarheen ’n storie op pad is en verbande tussen verskillende stories kan trek.”

Omdat die meeste ouers deesdae baie hard moet werk om die pot aan die kook te hou, is daar ál minder tyd om kinders se leesvaardighede te prikkel en het die vaardighede wat hierbo genoem is, agteruit begin gaan.

Sy sê egter ouers moet tyd probeer inruim vir lees, of ontwikkelingspeletjies. Goeie leesvaardighede verg net ’n paar minute van voorlees per dag.

Christien Neser voeg by dat remediërende voorlesing, waar ’n ouer die storie voorlees, met haar vinger die woorde natrek en die kind ook toelaat om saam te lees, is ’n uitstekende manier om kinders wat ’n leesagterstand het te help.

Nuttige boeke

Neser glo elke kind moet klassieke boeke soos sprokies en fabels lees omdat hulle baie lewenslesse daaruit leer.

Bemagtig jou kind met stories wat hulle help sin maak van dinge waarvoor hulle bang is, soos om dokter toe te gaan.

Riëtte Grobler
Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in Beeld.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *